Nog ‘n onoorwone jaar vir Grey

0
250
Die Grey-kollege loskopstut, Tielman Niewoudt, met 'n lynbreek teen Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch. Die voorryman het 'n barshou gespeel in die Eikestad en sal aanstaande jaar sy stem dik maak op die veld. FOTO: MARNUS VAN WYK

Die eerste rugbyspan van Grey-kollege in Bloemfontein het vanjaar weer eens bewys dat hulle op skolevlak geen gelyke in Suid-Afrika het nie. Grey het Paul Roos Gimnasium Saterdag met 51-28 in Stellenbosch afgestof om vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar die seisoen onoorwonne af te sluit.

Dié sege in die Eikestad sal een wees waaroor daar vir nog baie jare gepraat sal word. Hoewel dit nie Grey se grootste sege nóg teen Paul Roos was nie, was dit wel die eerste keer dat ‘n vyftigtal in die buurstryd op die telbord verskyn het. Dit was ook die eerste keer dat Paul Roos teen enige skool ‘n vyftigtal afgestaan het. Die 40-8 sege van 2013 is nog die grootste oorwinning vir die skool van die Rosestad teen hul grootste teenstanders.

Grey het hul eerste punte op die telbord aangeteken toe die reusevleuel, Marcel Muller, vroeg in die wedstryd gaan druk het.

Die loskopstut, Tielman Niewoudt, wat ‘n groot wedstryd beleef het, is koelkas toe gestuur vir ‘n skouerlopie op die Paul Roos-haker, Meiring Ebersohn. Paul Roos het die eenman-voordeel benut en Ruben Labuschagne en André Smit het met verdoelde drieë teruggeslaan. JD Odendal en Deon le Roux het toe vir die besoekers oor die doellyn gaan kuier. Jordan Venter het nog ‘n drie vir die tuisspan aangeteken voordat Nieuwoudt Andrew Pegg enkele meters voor die doellyn platgetrek het. Pegg het die bal in die duikslag verloor en Franco Knoetze het dit op die doellyn opgepik en ‘n volle 100 m genael om aan Grey ‘n skrale voorsprong van 22-21 met rustyd te gee.

Dié drie sal vir baie jare nog beskou word as een van die bestes op skolevlak.

Grey het in die tweede helfte van die kragmeting oudergewoonte die krane oopgedraai met Ian Small-Smith, Duan Ludik, FC du Plessis en Tian Fourie wat almal agter die doellyn gaan kuier het.

Cade Croy se drie en die vervyfskop deur die losskakel, Kade Wolhuter, was die tuisspan se enigte punte in die tweede helfte op Markotter.

Die Grey-afrigter, Wesssel du Plessis, het aan Bloemfontein Courant gesê die feit dat dit vir baie van die spelers hul laaste wedstryd vir die skool was hulle aangespoor het. “Die groot ding is, die ouens was lus vir Paul Roos en hulle was honger omdat dit laaste wedstryd van die jaar was. Ons het so half en half voor die tyd geweet Paul Roos versprei nie oor die hele veld met hul aanvalspatroon nie, daarom het ons geweet dat as ons omgekeerde besit kan bewerkstellig, hulle gaan sukkel om te verdedig. Dít is die een ding wat ons geweet het, en dit is wat in die tweede helfte gebeur het.”

Grey het minstens sonder vyf sterre wat die SA Skolespanne verteenwoordig het, gespeel en van die Cherries (tweede span)-spelers het kans gekry om hul stempel af te druk.

“Grey maak altyd plek vir ‘n volgende man om die een wat uit is, se skoene vol te staan. Die kompetisie is altyd tussen die eerste en tweede span, en eintlik nooit teen die teenstanders nie. Dit is maar een van die geheime waarom ons altyd goeie spelers lewer. Hulle meet hulself teen mekaar. Dit is ook dan wanneer jy weet die skool se rugby is gesond.

“Die Cherries-spelers wat die step-up gemaak het, soos onder andere Tielman Niewoudt, was baie oulik en dan is daar ook ouens soos Franco Knoetze. Hulle is goeie spelers vir volgende jaar. Ons hoop dat ons in 2020 weer ‘n goeie seisoen sal hê, maar daar lê altyd harde werk voor in die voorseisoen. Ons sal moet seker maak dat al ons ouens fiks en reg is en dan moet ons ook seker maak dat ons volgens die regte patroon speel met die spelers wat ons het.”

Volgens Bloemfontein Courant se inligting is dit 27ste jaar dat Grey ‘n onoorwonne jaar in die rekordboeke aangeteken het. – MORGAN PIEK