Kerk verwelkom predikantspaar

0
270
Ds. Charles en mev. Christa Mitchell, nuwe predikantspaar by Andrew Murray Community Church.

Ds. Charles Mitchell, inkomende predikant van die Andrew Murray Community Church, het op Sondag 4 Augustus leraar van die gemeente geword. Mitchell en sy vrou, Christa, was van plan om af te tree, maar nadat hulle daaroor gebid en leiding van Bo gevra het, het hul planne ‘n ander wending geneem.

Mitchell vertel aan Bloemfontein Courant dat hy vir 33 jaar voltyds in die bediening was en op 28 Julie afgetree het. Hy is as tentmaker deur ds De La Harpe le Roux bevestig.

Mitchell sê hy en sy vrou se planne vir die gemeente moet wag totdat hulle die mense leer ken het. Hulle hoop om mettertyd agter te kom watter unieke en nuwe behoeftes daar is.

“Alles funksioneer tans goed en die bestaande infrastruktuur is effektief, die kerkkantoor en prof. Johan Janse van Rensburg het daarvoor gesorg,” sê Mitchell. Hy vertel hulle wil graag sien dat die multikulturele bediening meer sigbaar word en dat almal moet tuis voel. Die egpaar is baie lief vir musiek en wil ‘n meer moderne aanslag volg, maar dit moet van goeie smaak getuig.

“Die Andrew Murray Community Church is klein in getal maar groot van hart en ons sal graag met ander gemeentes wil saamwerk aan projekte en uitreike,” sê Mitchell. Sy grootste inspirasie is die warmte van die gemeente, alle kulture voel tuis in die kerk en al is die getalle klein, word kan almal iewers inskakel of geakkommodeer word. “Soos die spreekwoord sê: hoe meer siele, hoe meer vreugde,” sê hy.

“Hierdie nuwe begin is heeltemal iets anders as waaraan ons gewoond is. Dit is ‘n Engelse bediening en die multikulturele aanslag is ‘n groot uitdaging. Ons self het al baie nuwe dinge geleer oor getrouheid, aanvaarding, meelewing en samewerking tussen ‘n klein groepie mense.”

Die Mitchells vertel hulle is baie dankbaar dat hulle steeds in die “Here se wingerd kan werk en kan uitsien na die vele vrugte wat die Andrew Murray Community Church nog sal oplewer.”

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za