Maryka groet netbal as ‘n speler

0
136
Maryka Holtzhausen in aksie vir die Proteas vroeër vanjaar teen die Diamante van Australië. FOTO: MICHAEL BRADLEY

Die groot ster in Vrystaat- en Proteas-netbal, Maryka Holtzhausen, het ná 12 jaar besluit om uit te tree as professionele speler.

Holtzhausen, wat haar provinsie sowel as haar land aangevoer het, het in 116 toetse vir die Proteas gespeel en Suid-Afrika onlangs nog by die Netbal-wêreldbeker in Liverpool, Engeland, verteenwoordig.

Gedurende haar loopbaan het sy Suid-Afrika by drie Statebond Spele- asook drie Wêreldbeker-byeenkomste verteenwoordig.

Sy was ook die eerste Suid-Afrikaner om in die Verenigde Koninkryk se voorste toernooi, die Netbal Superliga, te speel, waar sy van 2015 Loughborough Lightning verteenwoordig het. Sy was ook ‘n speler vir die Vrystaat Crinums en die Universiteit van die Vrystaat Kovsies, en sy was ‘n groot deel van die twee spanne se sukses oor die afgelope kloppie jare.

In November verlede jaar het sy die tweede Suid-Afrikaner ooit geword om haar land in ‘n 100 toetse te verteenwoordig.

Die ster-speler sê dat sy vrede het met die moeilike besluit wat sy moes neem.

“Om eerlik te wees, ek het baie gemengde gevoelens, alhoewel ek vrede in my hart het oor my besluit, maak is dit nie maklik om van so ‘n groot deel van my lewe afskeid te neem nie.

“Ek dink elke atleet bereik ‘n punt in hul loopbaan waar dit reg voel om te laat gaan en aan te gaan. Dit voel net reg om op ander dinge in my lewe te begin fokus,” sê Holtzhausen.

Holtzhausen se laaste wedstryd vir Suid-Afrika was op 21 Julie toe die Proteas by die Wêreldbeker vir Engeland gespeel het vir die derde en vierde plek op die toernooi. – MORGAN PIEK