Friend sluit by die Dolphins aan

0
233
Die voormalige VKB Knights-snelbouler, Quinton Friend, gaan by die Dolphins aansluit waar hy as die span se boulafrigter sal dien. FOTO: JOHAN PRETORIUS

Die voormalige VKB Knights-snelbouler, Quinton Friend, sal by die Dolphins in Durban aansluit vir die komende plaaslike krieketseisoen. Friend is as die span van KwaZulu-Natal se nuwe boulafrigter aangewys.

Die 37-jarige Friend het in 2016 sy uittrede uit die sport aangekondig sedertien by die Knights gewerk as afrigter. Hy het ook in dié tyd vir homself naam begin maak as krieketkommentator.

Vroeër in die jaar was hy ook een van die kandidate waarna die Knights gekyk het vir die pos as nuwe hoofafrigter, en volgens Bloemfontein Courant se inligting het hy ‘n baie goeie kans gestaan vir die pos. Alan Kruger is egter in die pos aangestel.

In die Vrystaat was hy in beheer van die Knights se Krieketakademie; hy was hulpafrigter van die provinsiale span en hy was ook afrigter van die Vrystaat se vrouespan.

Friend erken dat dit glad nie ‘n moeilike besluit was om die pos te aanvaar nie aangesien hy voorheen krieket vir die Dolphins gespeel het.

“Dit was ‘n maklike besluit om die pos te aanvaar. Ons weet dat die plaaslike krieketstelsel binnekort sal verander en ek kon nie nee sê vir ‘n pos om weer by ‘n franchise betrokke te wees nie. Dit is vir my ‘n groot geleentheid om by ‘n franchise betrokke te wees waar daar soveel goeie, jong en talentvolle spelers is en as ons hulle met 20 persent kan verbeter, dan het ons goeie werk gedoen.”

Friend is van mening dat dit glad nie moeilik sal wees om by die stelsel in te skakel nie.

“Ek dink die groot verskil is toe ek by die Dolphins gespeel het, ek saam met Immy (Khan) gespeel het asook saam met van die ander manne wat nog daar is.

“Dit sal sonder twyfel dinge makliker maak en in ‘n bekende omgewing is ek slaggereed vir die nuwe uitdaging.” – MORGAN PIEK