LANI FOUCHÉ
‘n Bloemfonteinse landdros het Woensdag die twee verregses in die Grootvlei-tronk besoek waar hulle sedert Maandag op ‘n eetstaking is. Landdros Monde Machaya was by Johan Prinsloo en Martin Keevy om griewe wat hulle oor hul borg-weiering het, te bespreek.
Woordvoerder vir die Vrystaatse departement van korrektiewe dienste, Puleng Mokhoane, sê beide Prinsloo en Trollip spandeer vandag hul vierde dag sonder ‘n krummel kos, en dat dit onbekend is hoe lank hulle sal uithou.
Departementele adjunkhoof Grace Molatedi sê hulle het die redes vir dié drastiese optrede duidelik gemaak. "Hulle sê hulle is sedert hul arrestasie sewe maande gelede nog nie amptelik aangekla nie en nie ‘n klagstaat gesien het nie. Hulle is ook ongelukkig oor borgkwessies."
Courant verneem hulle eis ook dat die ondersoeke vinniger afgehandel word, en hulle kla glo oor die kos wat hulle in die tronk kry om te eet.
Mokhoane sê ‘n verteenwoordiger van die nasionale vervolgingsgesag het hulle nog nie besoek nie. Beide se gesondheid word steeds deur tronkowerhede gemonitor.
Prinsloo en Trollip word saam met Martin Keevy en Hein Boonzaaier daarvan verdink dat hulle beplan het om top ANC-leiers tydens die party se Mangaung-kongres verlede jaar te vermoor. Hulle staar aanklagte van sameswering om terreurdade te pleeg en hoogverraad in die gesig.
Hulle moet weer op 23 Augustus saam in die hof verskyn.






