Ná drie jaar se wag het die Universiteit van die Vrystaat Kovsies se tennisspan hul USSA-titel met styl verdedig, aangesien hulle hul oorheersing in die gekombineerde formaat voortgesit het.
Kovsies is vir ‘n tiende agtereenvolgende keer as die USSA-kampioene gekroon en hulle bly die enigste span in Suid-Afrika wat die titel kon wen sedert die ontstaan daarvan in 2010.
Kovsies is nou al 13 jaar agtereenvolgens die nasionale universiteitskampioene. In 2007 en 2008 het die Kovsie-vrouespan ‘n USSA-titel gewen en in 2009 het die mansspan geseëvier.
‘n USSA-toernooi het nie in 2016 plaasgevind nie en die laaste toernooi is in 2019 aangebied voordat die Covid-19 pandemie verrigtinge gestaak het.
Dit het egter nie maklik gebeur nie en die eindstryd teen die Universiteit van Pretoria in Potchefstroom was ‘n naelbytstryd.
‘n Jong Kovsies-span moes diep delf om ‘n begeesterde Tuks te oorkom in wat dalk die moeilikste USSA-eindstryd tot nog toe was.
Aan die einde van spel, was die spanne gelykop met dieselfde aantal wedstryde — sewe elk en 15 stelle elk. Dit het uiteindelik neergekom op wie die meeste wedstryde in die eindstryd gewen het. Kovsies het die span van die Jakarandastad met 132 wedstryde teenoor 126 geklop.
Die Kovsiespan het vroeër die week die Universiteit Stellenbosch Maties 7-4 in ‘n halfeindstryd getroef en die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus 7-5 verslaan, die Vaal Universiteit van Tegnologie 14-0 afgeransel en die Universiteit van Kaapstad 14-0 in die groepwedstryde pakslae gegee. – MORGAN PIEK







