Goeiedag
“Die nederlaag met een paaltjie in die vierde Internasionale Eendag-krieketkragmeting teen die Windies is ’n vroeë wekroep vir AB de Villiers en sy Proteas: Net jul heel beste is goed genoeg as julle as ’n span wil presteer in die IKR se Wêreldbeker-toernooi! Veral as die toernooi daar doer onder in Australasië gespeel word,” begin Stywelip Carrington ons indaba op dramatiese wyse. “Ja, en spyt kom mos altyd te laat. Die afwesigheid van die Proteas se top-spelers Hashim Amla, Dale Steyn, Vernon Philander, Imran Tahir en Quinton de Kock, het die swakhede van die spankeuse vir die Wêreldbeker-toernooi ook blootgelê. Die keuse van die regte vyfde bouler sonder om die kolflys te verswak en natuurlik die groot druk wat daar op De Villiers se skouers geplaas word, kan ons duur te staan kom,” gesels Oom Sjert saam. “Wag, manne. Ek het groot vertroue in AB-hulle, maar het julle nie dalk vergeet van Branden Grace se prag-gholfsege in die Katar-meesters nie? Daardie voëltjies van hom op die 12de en 14de en toe die arend twee op die 16de met die finale kishou van ’n voëltjie op die 18de het hom die titel voor Marc Warren laat wegraap. Ongelukkig het George Coetzee, Ernie Els, Darren Fichardt en Thomas Aitken hulle nie werklik laat geld nie. In Amerika het Rory Sabbatini die beste gevaar, terwyl Retief Goosen uitgesak het,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.
“Ons voorspelling oor die Australiese Ope is ook in die kol. Nog ’n paar top-gekeurdes soos Roger Federer asook Petra Kvitova en Victoria Azarenka is ook uitgeskakel Ongelukkig onse Kevin Anderson ook, hoewel hy Rafael Nadal hard laat werk het vir sy oorwinning,” praat Bontie Bonthuys oor die tennis. Botterbul Bester is so ontsteld omdat daar nie rugby praat word nie, dat hy begin stotter: “Nou wat-wat-wat sê julle van my Bulle? Hulle het die Toyota Cheetahs 30-13 in Polekwane opgedons. Wat sê julle daarvan?” Die ander manne lag lekker en Sporie begin selfs giggel. “Toemaar, Botterbul. Ons het kennis geneem dat die Stormers die SWD Arende verder geklop het en dat die Leeus die Griffons afgeransel het. Dit is egter net opwarmingswedstryde. Die feit dat jy van “my Bulle” praat, krap. As ek reg verneem was twee oud-Cheetahs, Piet van Zyl en Lappies Labuschagné, onder die Bulle se uitblinkers. Daarby het die Bulle eers in die laaste 20 minute die oorhand gekry toe die Cheetahs hul plaasvervangers ingespan het. Kom ons kyk wat gebeur as die Bulle Saracens in Engeland pak en die Stormers en Cheetahs in die Kaap slaags is,” terg Bontie.
“Ek vergader nie verder nie,” kondig Botterbul aan. Die ander manne lag so dat ons die indaba kortknip.
Groetnis







