Iemand anders!

0
587

Gedurende Desember het ek die mooiste verhaal gehoor van ’n koning wat sy formele klere verruil het vir gewone klere sodat niemand op straat hom sou herken nie. Hy het dit gedoen sodat hy kon sien hoe sy onderdane in die gewone lewe leef. Hy wou op hulle vlak die gewone dinge en die hartseer en mooi van gewone mense beleef. Dit hy my ook laat dink aan die die woorde in Hebreërs 2:17, “Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word”. Die koning in die gewone verhaal het sy klere uitgetrek en gewone klere aangetrek om sy mense te verstaan. Juis dít het Jesus vir jou en my kom doen. Hy het versoekings beleef, dors geword en saam met sy pa houtwerk gedoen, hy was alleen en het gehuil. Hy is verwerp en gekruisig in jou en my plek. Daarom kan ek en jy ons seer en worstelinge met Hom deel. As Seun van God het Hy vir ons gesterf, maar opgestaan uit die dood. Hy het mens geword, sodat ek en jy nooit weer sonder hoop sal leef nie. Hy het iemand anders geword, ’n mens geword, sodat ek en jy nooit self iemand anders hoef te word nie! Ja, alles net genade!

Ds. Stephan van Heerden

* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale terapeut.