GEORG VAN ECK
Die Toyota Vrystaat Cheetahs is besig om weer behoorlik in rat te kom en die klinkende sege van 40-20 oor hul vurige bure, GWK Griekwas, getuig daarvan, maar nog ’n hoër rat is nodig as hulle Saterdag die Blou Bulle in hul kraal, Loftus Versfeld, in Pretoria wil gaan tem.
Daar was talle ligpunte in die Vrystaters se wedstryd teen die Poubloues, maar Boom Prinsloo en sy trop sal ’n groot fout begaan as hulle hul blind daarteen staar. Harde werk wag, minder klein foutjies en beter afrondig is nodig as hulle op die wenpad in die Absa Curriebeker-reeks wil bly.
Daar moet onthou word dat Griekwas vir 20 minute net met 14 man moes speel en ’n tyd lank met net 13 spelers moes klaarkom ná die kaarte wat Marnus Schoeman (geel) en Rory Arnold (rooi) gekry het.
Die ligpunte was die lakwerk van die Vrystaters en die spel van die senterpaar, Eben Ebersohn en Johann Sadie, op die aanval. Met slim afwisseling van hul spel het hulle hul teenstanders laat bontstaan en kanse vir hul snellers skep.
Daarby het die Vrystaters met Trevor Nyakane, Heru Liebenberg, Rossouw de Klerk en later ook Ethienne Reynecke en Wian du Preez, in die voorry sterk geskrum. Met Nyakane aan die voorpunt het die voorspelers die bal goed gedra en gedryf.
In die lynstane het Lood de Jager saam met die ander rankers die botoon gevoer. De Jager is ’n yster en leier, terwyl Oupa Mohoje op slot ’n aanwins is.
Die lostrio, Prinsloo, Lappies Labuschagne en Philip van der Walt, speel al hoe beter saam en dwing gesag af.
Op losskakel groei Elgar Watts se selfvertroue en kan hy vorentoe ’n ware troefkaart word.
Daarby gee die plaasvervangers, Du Preez, Reinecke, Davon Raubenheimer, Kevin Luiters, Piet Lindeque, Waltie Vermeulen en Willie du Plessis, die span ’n stewige hupstoot as hulle ingespan word.
Nou met die Vrystaters net hul balsbesit net beter beskerm en die talle kanse wat geskep word in punte omskep. Dan gaan hulle vanjaar sterk aanspraak op die gesogte Goue Beker maak.
Punte: Toyota Vrystaat-Cheetahs 40 (22). Drieë: Boom Prinsloo (2), Raymond Rhule, Elgar Watts, Kevin Luiters. Doele: Riaan Smit (2), Elgar Watts. Straf: Riaan Smit, Elgar Watts (2), Griekwas 20 (5). Drieë: Rocco Jansen, Rory Arnold. Doele: Nico Scheepers (2). Straf: Scheepers (2).
Ander uitslae: Haaie 34 Blou Bulle 18; Goue Leeus 31 Westelike Provinsie 31. [email protected]







