Professor Nico du Plessis (79), skepper van die Wêreldkennis-olimpiade, is onlangs ná ‘n kort stryd teen kanker oorlede.
Meer as 470 000 leerlinge van regoor Suid-Afrika het oor die 26 jaar van dié olimpiade se bestaan daaraan deelgeneem. Die doel van die Olimpiade was om skoolleerders van graad
6 tot 12 se algemene kennis te toets en hulle aan te moedig om dit uit te brei deur o.a. gereeld koerant te lees.
Du Plessis was nie net die meesterbrein agter die olimpiade nie, maar het ook saam met ander kollegas ‘n wiskundeboek, Terug na die Basiese (Back to Basics), in samewerking met ander onderwysers, en waarvan hy self die redakteur was, vir graad 7-leerders geskryf. In hieride boek is 36 jaar se kennis gebruik om ‘n studiegids saam te stel. Dit is uniek en enig in sy soort in Suid-Afrika. Daar is selfs ‘n hoofstuk, Pret met Wiskunde, wat aktiewe deelname van ouers aanmoedig.
Du Plessis het ook Seiso Uitgewers in 2014 gestig met die doel om Suid-Afrikanse leerlinge op skool te help.
Dr. Manie Wolvaardt en Du Plessis was vriende van skooldae af. “Ons was nog altyd vriende, maar die laaste vier jaar het ons baie na aan mekaar gewerk, omdat hy my gehelp het met my boeke en skryfwerk,” vertel Wolvaardt. Een van die boeke waaraan hulle saam gewerk het is Die groot 5 Godsdienste – ook die in Afrika. Wolvaardt sê hy bewonder Du Plessis se harde werk en sy integriteit.
Bloemfonteiners sal prof. Nico onthou vir sy groot liefde vir rugby en hoe ‘n groot ondersteuner hy was van Grey-, Shimla- en Cheetah-rugby.
Mense wat hom onthou, sê Du Plessis was baie lief vir sy familie. Hy word oorleef deur sy vrou, Veronica, drie kinders, skoonkinders en nege kleinkinders. ‘n Gedenkdiens sal Dinsdag 6 Junie om 11:00 in die Klipkerk gehou word. – Jeretha Oosthuizen
[email protected]






