'n Ma, haar dogter en hul beweerde tuinwerker wat glo uit wraak saamgesweer het om 'n Bloemfonteinse drawwer te vermoor, is later vanjaar weer in die hof.
Die verhoor van Charmaine le Roux, haar dogter, Charndrei, en Jerry Brummer is Maandag na die streekhof oorgeplaas. Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en sameswering tot moord.
Die Le Rouxs het Brummer glo gehuur om Buschow aan te rand nadat Charndrei onder 'n donker wolk by die skool bedank het.
Dit kom nadat Karen Buschow, eienaar van 'n plaaslike skool waar Charndrei voor die aanval gewerk het, in Julie oorval en vermoedelik deur Brummer met 'n klip aangerand is, terwyl sy vroegoggend in Dan Pienaar gedraf het. Buschow is in die ysige koue in 'n sloot langs die pad vir die dood gelaat. Haar selfoon is gevat.
Die drie beskuldigdes is verlede week elk op borgtog van R1 500 vrygelaat.
Hulle sal na verwagting op
10 November in die streekhof verskyn wanneer 'n verhoordatum vasgestel sal word. Herklaas Venter van Lovius Block-prokureurs in die stad tree vir die aangeklaagdes op. – Christal-lize Muller
[email protected]
Date:







