Die Heuwels Fantasties was nog altyd lief vir reis en nuwe avonture. Talle van hierdie 2016- SAMA-benoemde Afrikaanse Alternatiewe Popgroep se musiekvideo’s getuig daarvan. Hulle het al vir die Springbokke in Nieu-Seeland gaan optree tydens die 2011 Rugby-Wêreldbeker, verskeie toere onderneem na Engeland, Holland en Dubai, en ‘n musiekvideo vir Shangri-La in Amerika verfilm in 2014.
Volgende op Die Heuwels Fantasties se reisplan is ‘n toer na Australië. Die groep sal vanaf 3 Junie vertonings in Auckland, Brisbane, Melbourne en Perth lewer. “Ek sien baie uit om pret te hê saam met ons aanhangers wat definitief te min Afrikaanse musiek live sien,” sê Pierre Greeff, hoofsanger van Die Heuwels Fantasties.
Hierdie toer word aangebied deur Showmax en SA Events.
Dit sal ongelukkig beteken dat Die Heuwels Fantasties die 2016-SAMA-toekennings in Durban op 4 Junie gaan misloop. Hulle is hierdie jaar in die kategorie vir ‘Best Alternative Album’ benoem. “Dis altyd wonderlik om deur jou kollegas in die bedryf benoem te word. Selfs net die nominasie is wonderlik. Ons het in 2010 die Alternatiewe Afrikaanse Album- toekenning gewen. Dit sal great wees om met die algehele Beste Alternative weg te stap,” sê Pierre oor hul SAMA-benoeming.
Die Heuwels Fantasties gaan darem ‘n paar van hul beroemde vertonings in Suid-Afrika lewer voordat hulle op die vliegtuig na Australië klim – ongelukkig geen in ons omgewing nie.







