Daar is ‘n paar reuse duikslae gemaak – Hawies

0
133
Die stut, Luan de Bruin en senter/vleuel, Carel Jan Coetzee tydens 'n Cheetahs oefensessie in 2019. FOTO: MORGAN PIEK

Die verdedigende kampioene, die Toyota Vrystaat Cheetahs, het presies ‘n jaar nadat hulle hul sesde Curriebeker gewen het, uiteindelik met hulle kontaksessies tydens oefeninge begin.

Die span het verlede week ‘n blaaskans geniet en het Maandagoggend nog in kleiner groepies geoefen, voordat hulle die middag weer kon begin met kontak-vat.
Daar was egter maatreëls in plek om beserings te verhoed aangesien hulle in Maart laas duikslae uitgevoer het.

Die breier van die span, Hawies Fourie, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle stelselmating meer en meer kontak sal uitoefen.

“Die sessie van gister (Maandag) het goed verloop, en ons het net ongeveer 20 minute kontak geniet.

“Die verdedigers het lyfdrag aangehad, wat ‘n bietjie gehelp het. Daar is ‘n paar reuse-duikslae gemaak en jy kon sien dat ouens regtig gretig was om weer in kontak te kom.

“Aan die aanvalskant was daar heelwat goeie dinge, maar daar was baie hanteerfoute en ‘n bietjie oorgretigheid.”

Die slot, Carl Wegner, wat na twee jaar by Toyota Verblitz in Japan terug is by die Cheetahs, het op sy beurt erken dat dit lekker was om van frustrasies ontslae te raak.

“Almal was opgewonde toe ons vanmiddag weer op die veld uitkom en ons weer kon kontak maak.

“‘n Mens sien regtig die honger by sommige ouens wat net ‘n stelling wou maak en van hul frustrasie ontslae wou raak; die afgelope paar maande was frustrerend omdat ons nie kon doen waarvoor ons lief is nie.

“Dit was vir ons almal ‘n bietjie van ‘n positief gewees. Almal van ons geniet Saterdag die meeste, dus was kontak ‘n stap in die regte rigting vir ons.”

As dinge verloop soos beplan, sal die Cheetahs op 26 September in Kimberley teen die Griekwas te staan kom in ‘n oefenwedstryd. – MORGAN PIEK