Twee van dieselfde familie sterf binne dae

0
254
Leon Titus en sy suster, Anette van Heerden. Haar begrafnis vind eerskomende Saterdag plaas.

‘n Bloemfonteinse familie is dié week swaar getref nadat twee familielede binne dae gesterf het en drie ander verlangse familielede ook oorlede is.

‘n Gebroke Leon Titus van Heidedal, het aan Bloemfontein Courant gesê sy familie is die afgelope week deur groot hartseer getref nadat vyf familielede binne vier dae oorlede is.

Twee naby-familielede van hom, sy suster, Anette (Titus) van Heerden en sy neef, Greg Titus, is onder die geliefdes wat heengegaan het. Greg is weens Covid-19-verwante oorsake oorlede.

Titus het vertel hoe moeilik die omstandighede op die oomblik vir albei gesinne is. “Dit was té skielik en só onverwags. Ons het nog soveel planne en drome gehad. Dit gaan moeilik wees, maar ek weet met die krag van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, sal ons deurdruk.”

Vir Titus persoonlik is dit ‘n baie moeilike en hartseertyd omdat hy so na aan albei oorledenes was. Hy sê wat hy altyd van sy suster sal onthou, is dat sy vol vreugde was. Hy sê sy was ‘n gelukkige en snaakse mens, maar sy was ook ‘n baie reguit mens. “Sy was baie lief vir haar kinders en kleinkinders, en ek sal altyd die heerlike kos wat sy gemaak het, mis.”

Leon Titus en sy neef, Greg Titus, wat op Donderdag 10 September 2020 begrawe word

Van Heerden laat haar man, twee seuns, ‘n dogter, ses kleinseuns, vyf susters en vier broers agter.

Titus sê daar is soveel dinge wat hy van sy neef, Greg, gaan mis. “Hy was baie lief vir lewende vermaak en het graag verhoogvertonings bygewoon. Sy huis was vir hom ‘n rustige hawe ná ‘n besige week by die werk. As hy eers in sy La-Z-Boy kom sit het, met sy skootrekenaar en die televisie aan, was hy in sy noppies.

“As ‘n mens by hom gekuier het, sou hy met jou gesels, maar die skootrekenaar en TV bly aan. Hy was mal oor sy werk, om sy kliënte (onderwysers) te ondersteun en te help. Hy het dit ook geniet om sy gesin met vakansie te neem.”

Titus het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy sy neef gaan mis as ‘n vriend, as ‘n broer en as geselsmaat. Greg Titus laat sy vrou en drie seuns agter, asook twee kleinseuns en twee susters. Greg se begrafnis vind vandag plaas en Anette se begrafnis op Saterdag. Albei dienste word in die St Philips Anglikaanse Kerk in Heidedal gehou.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za