Crinums wen NPL-eindstryd net-net

0
799
RUFUS BOTHA

Die ou sportgesegde “check the scoreboard” is alombekend en in ‘n een-vir-jou-een-vir-my (doele) by die Brutal Fruit eindstryd tussen die Vrystaat Crinums en die Gauteng Jaguars (Noord Gauteng) is die telbord meer gereeld dopgehou as gewoonlik.

Dit is byna ongelooflik dat dié twee spanne Sondag in Pretoria in die eindstryd die eindfluitjie met die telling op 48-elk moes aanhoor. Dit het beteken dat die kampioen eers gekroon sou word na ekstratyd en dit was tóé dat die Bloemfonteiners kop gehou het en die knoop deurgehaak het. Die Crinums het met 61 – 59 oorwinning gesmaak.

Vanjaar se eindstryd kan as ‘n “kyk weer” van verlede se eindstryd beskou word, want toe die eindfluitjie in die 2014-eindstryd blaas, het die telbord ‘n gelykoptelling van 31-elk uitgeblaker en die wedstryd was eers (soos vanjaar) na ekstratyd deur die Vrystaters met 40 – 36 beklink.

Daar is so baie van die spelers wat mens wil uitsonder, maar een wat die oog gevang het, was die doelskieter van die Crinums, Danelle Willemse. Willemse se doelskietvertonings het die afgelope twee jaar gewissel van swak tot baie goed, maar van konstante bogemiddelde vertonings was daar maar min sprake.

Willemse het egter Sondag getoon dat sy wel oor die sportgesegde, BMT (Big Match Temperament) beskik en dit dik onderstreep. Sy was komkommerkoel en het met 32 van haar 37 doelskietpogings geslaag (86%). En, in enige netbalterme is dit uitstekend.

Heelparty eerbewyse in na die eindrondte toegeken nadat alle spelers van al die deelnemende spanne met valkoë dopgehou is.

Die eerbewyse het gegaan aan:

Beste verdediger: Shadine van der Merwe (Jaguars). Beste middelveldspeler: Bongiwe Msomi (Kingdom Stars). Speler wat die meeste belofte toon: Nokubonga Sibiya (Kingdom Stars). Beste doelskieter: Lenise Potgieter (Jaquars). Beste spanbestuurder: Corné Marais (Crinums). Span wat die meeste verbeter het: The Kingdom Stars. Afrigter van die reeks: Burta de Kock: (Crinums). Beste span van die reeks: Crinums. Speler van die reeks: Carla Mostert (Crinums).