Wayde verbeter Afrikarekord

0
683
RUFUS BOTHA

Die 22-jarige Kovsiestudent en die land se vinnigste 400m-atleet van alle tye, Wayde van Niekerk, staan voor die beste seisoen van sy jong loopbaan.

Dit het die taai soos ‘n ratel Van Niekerk Sondag in Birmingham gewys toe hy in sy eerste buitelandse verskyning in 2015 in die seldsame nommer, die 300m, gewys het dat hy reg is vir groot dinge. Hy het die wedloop in ‘n blitsige 31,63 gewen en sodoende die Suid-Afrikaanse en Afrikarekord in dié nommer agter sy naam geskryf.

Van Niekerk het in die wedloop die driemaalwenner van Olimpiese Spele-medaljes (4 x 400m), Chris Brown (Bahamas, 31,99), gerieflik geklop. Die Brit en voormalige wêreld- junior kampioen in die 200m (2012), Delano Williams was derde in 32,14.

Die Afrikarekord wat Van Niekerk vermag het, het reeds 29 jaar op die boeke gepryk agter die naam van Gabriel Tiacoh (Ivoorkus) wat in 1986 ‘n haastige 31,74 afgeblits het. Tiacoh is in 1992 in die jeugdige ouderdom van 29 jaar aan breinvliesontsteking oorlede.

Kom ons vergeet vir ‘n wyle van die Afrikarekord aangesien dit ‘n seldsame nommer op wêreldatletiekbane is en kyk wat die tyd vir Van Niekerk in sy voorkeurnommer (400m) voorspel.

Kenners sal jou vertel dat jy jou tyd oor 300m (31,63 in Van Niekerk se geval) as basis gebruik, dit deur 300 deel en dan met 400 vermenigvuldig. Met dié antwoord (42,17) kan jy tussen 1,5 en twee sekondes bytel vir die ekstra 100m waar die moegheid (in leketaal), sy verskyning maak om ‘n moontlike 400m-tyd te voorspel.

Gebruik jy die maksimum (twee sekondes ekstra) blyk dit duidelik te wees dat Van Niekerk nou reeds op peil is vir ‘n 400m-tyd van 44,17. En, dit is 21 honderdstes van ‘n sekonde vinniger as sy Suid-Afrikaanse rekord van 44,38.

Van Niekerk het dié Suid-Afrikaanse rekord verlede jaar (14 Junie) by ‘n diamantligabyeenkoms in New York vermag en tree Saterdag by die einste New York-byeenkoms in die 400m aan. ‘n Mens wil nie voor New York voorspellings waag nie, want dié stad se weersomstandighede kan skielik verander, maar as alles goed verloop, met ‘n paar wilde 400m-atlete in die wedloop, kan Van Niekerk naby sy eie Suid-Afrikaanse rekord draai.