E Copy

Date:

Antonet laat 300ste doel klap vir Oranje-eerstes

RUFUS BOTHA

Drie honderd! Dit is die bykans ongelooflike hoeveelheid doele wat die doelskieter van die Hoër Meisieskool Oranje, Antonet Louw, Saterdag vir haar skool se eerstehokkiespan agter haar naam geskryf het.

Louw was Saterdag in haar laaste wedstryd vir haar spogskool se eerstespan in aksie toe hulle koppe gestamp het teen Witteberg (Bethlehem) by die eindronde van die Vrystaatbeker-kompetisie wat in Bloemfontein beslis is. Dié toernooi is op rondomtalie-grondslag gespeel.

Voor die span op die veld gestap het, het die opgewonde afrigter van Oranje, Morné Odendaal, in Bloemfontein Courant se oor gefluister: "Antonet kort vyf doele vir ‘n 300-tal". Hy het bygevoeg dat dit iets is wat nog nooit in skolehokkie beleef is nie, maar dat dit moeilik gaan wees".

Die komkommerkoel Louw het reeds in die eerste helfte die doelhok getref – vier keer! Maar, toe kom daar in die tweede helfte ‘n ‘skietstilstand’ toe Louw min geleenthede gekry het. Oranje het nietemin deurgaans in Witteberg se helfte geboer en toe, met sowat tien minute voor die eindfluitjie en Oranje reeds 8 – 0 voor, gebeur die ondenkbare.

Odendaal haal sy doelwagter van die veld af en vervang haar met ‘n verdediger om sodoende vir Louw meer geleenthede te skep om met haar 300ste te tref. Nie lank daarna was en een van Oranje se aanvallers op pad doelhok toe. Louw het gesien dié bal kon moontlik die doelhok mis en haar stok voor gekry om die bal in die regte rigting te, soos hokkieterme dit wil hê, "guide".

Witteberg se doelwagter en verdedigers kon slegs toekyk.

Dit was nie slegs die 300ste doel wat Louw vir Oranje se eerstespan aangeteken het nie, dit was ook die laaste doel van die wedstryd wat met 9 – 0 deur Oranje gewen is. Louw was ook kaptein van die span en het 14 van Oranje se 27 doele in drie wedstryde by die genoemde Vrystaatbeker-toernooi agter in die net geplaas.

Die 300ste doel is ook Louw se laaste ooit vir Oranje se eerstespan – sy is in matriek en die skole-hokkieseisoen is iets van die verlede. Louw se 300ste doel het gekom in 194 wedstryde vir Oranje se eerstespan, wat beteken sy het ‘n gemiddeld van 1,6 doele per wedstryd vir Oranje se eerstes agter haar naam geskryf.

Courant het na die wedstryd met haar gesels en gevra of sy bewus was van die 300-tal. "Ek was, maar dit het my nie gepla nie. Dit sou my ook nie gepla het indien ek dit nie gedoen het nie, want ek speel vir my span", het sy dadelik bygevoeg.

Op die vraag of sy kan onthou waar en wanneer sy haar eerste doel vir Oranje se eerstespan aangeteken het, het sy gesê: "Ek onthou dit baie goed. Ek was in graad 8 en dit was in ‘n wedstryd teen Fichardtpark op Grey se astro."

info@bloemfonteincourant.co.za

Share post:

Popular

More like this
Related

Bloemfontein Zoo revamp progresses slowly amid budget constraints

Work is slowly progressing at the Bloemfontein Zoo, but...

Maintaining MMM’s 105 burial spaces ‘a mammoth task’

Residents of Bloemfontein have witnessed the deterioration of the...

Boiler breakdown delays patient meals at Universitas Academic Hospital

Patients at Universitas Academic Hospital have faced delays in...

A decline seen in residential burglaries in Mangaung

Residential burglaries in Mangaung have been an ongoing problem,...