Tralies Netbal eindig tweede by Wilderklawer sportfees

0
1286
Mark Steenbok

Die Hoërskool Sentraal se eerste netbalspan het die afgelope naweek die Bloefonteinse vlag laat wapper by die Wilderklawer-rugby-en-netbalfees.

Ten spyte van die feit dat hulle in die laaste wedstryd die knie gebuig het teen Hoërskool Stellenberg, kan Sentraal se netbalmeisies tevrede wees met hul vertoning op die toernooi.

Sare Hattingh, hoof van netbal by Sentraal, het aan Courant gesê die toernooi was van uitmuntende gehalte.

“Dis sekerlik van die top-sportfeeste in die land. Topskole in Suid-Afrika het teen mekaar meegeding en die hoë gehalte van al die deelnemers het die speelveld baie gelyk gemaak”.

Nadat die Tralies hul kaptein veloor het in die wedstryd teen Stellenberg het die Bloemfonteinse meisies effens momentum veloor. Die span van die Wes-Kaap het uiteindelik met ‘n oorwinning van 57-41 weggestap.

Die Stellenberg-meisies het toe die eerste Kaapse span sedert 2010 geword wat met die netballouere kon wegstap toe hulle ‘n Wildeklawer-uitnodigingspan in die eindronde geklop het met 38-24.

Sentraal het het volgens Hattingh baie hard gewerk om uiteindelik tweede te eindig maar sy het ook genoem dat hulle uitgeput was nadat hul vroeër in die dag  35-31 met dieselfde Wildeklawer-uitnodingingspan afgereken het.

“Ons het hard gewerk vir ‘n tweede plek, maar alle eer aan Stellenberg. Hulle het dit verdien.”

Die Tralies het in hul groep met die tuisspan Diamanveld (34-16), Hoërskool Menlopark (29-15) and HTS Middelburg (26-23) afgereken.

Die meisies sal weer op 16 Mei teen Jim Fouché in ‘n Classic Clash-wedstryd in aksie wees.