Stalletjie-aansoeke oop

0
695

Die Gariep Kunstefees is reeds in sy vyftiende bestaansjaar en beslis “Geskool in die Kunste”, wat ook die slagspreuk vir 2014 se fees. Vanaf 28 – 31 Augustus 2014 omskep die Gariep Kunstefees Kimberley in ‘n kunsteskool. Feesgangers kan uitsien na ‘n fees vol veranderinge, maar met steeds een doel voor oë: om die kunste in al sy vorme te bevorder.
Die Gariep Kunstefees poog om ‘n oorspronklike, kwaliteit kos- en kunsmark daar te stel wat spog met smaaklike kos en kreatiewe kuns. Volgens Anne-Marié Zimmermann, bestuurder: Markte en Uitstallings, sien sy jaarliks uit daarna om te sien met watter nuwe idees interpreneurs vorendag kom. “Ek wil elkeen aanmoedig om vrye teuels aan die verbeelding te gee – span jou sintuie in en verras ons met jou besonderse talent. Of dit kos of kuns is; die Noord-Kaap is uitgehonger vir mooi werke en watertand kosse,” het sy gesê. Kom proe of jou buurvrou nie dalk die volgende “meesterkok” is nie.
Elke mens het ‘n kreatiewe kant: kom wys jou kuns en kos vir Kimberley! Aansoeke vir die pretpark, kos- en kunsmark het geopen op 3 Maart 2014. Die kosmarkaansoeke sluit op 30 April. Die kunsmarkaansoeke word gekeur soos dit ontvang word. Die huidige tarief, soos aangedui op die aansoekvorm, duur tot 30 Junie daarna tree ‘n prysverhoging in. Aansoekvorms vir die pretpark is ook reeds beskikbaar en kan nog tot 30 Mei ingedien word. Alle aansoekvorms is op die webwerf, www.gariepfees.co.za beskikbaar en kan selfs aanlyn ingevul word.
Vir dié wat ook reeds geskool is in die uitvoerende kunste is daar ‘n verskeidenheid goeie produksies om van te kies. Soos in die verlede kan feesgangers ook ‘n sterbelaaide musiekprogram in die tente verwag.
Die volledige feesprogram word bekend gestel op 16 Julie en kaartjies vir die produksies sowel as toegang tot die feesterrein sal vanaf 17 Julie by Computicket beskikbaar wees.
Besoek gerus die fees se webwerf by www.gariepfees.co.za of skakel die feeskantoor by 053-832-5014 / 7. Volg ons ook op Facebook en Twitter vir die varste nuus.