Paarl Gimnasium het koning gekraai by die Fairtree Super12-hokkietoernooi wat verlede week in Bloemfontein plaasgevind het.
Paarl Gim het in die eindstryd van die spogtoernooi die Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch met 4–1 geklop om vir die eerste keer die trofee omhoog te hou.
In die halfeindstryde het Paarl Gim vir Rhenish Girls’ High van Stellenbosch met strafdoele met 3–1 verslaan, nadat die kragmeting gelykop met een doel elk geëindig het. Die ander halfeindstryd is ook met strafdoele beslis toe Bloemhof vir Diocesan School for Girls (DSG) Makhanda met 3–2 geklop het nadat die wedstryd 0–0 geëindig het.
Rhenish het daarna vir DSG in die bronsmedalje-eindstryd met 3–0 geklop. Hoërskool Waterkloof het in die 5de/6de-plek-uitspeelwedstryd vir Eunice Girls’ High van Bloemfontein met 2–1 geklop.
Dit was ‘n moeilike toernooi vir die twee spanne van die Rosestad, met Eunice wat in die sesde plek geëindig het. Die gasheer, die Hoër Meisieskool Oranje, moes met die tweede laaste plek tevrede wees.
Eunice se veldtog het begin toe hulle 0–0 teen Waterkloof gelykop gespeel het, daarna vir Oranje met 2–1 verslaan het en hul eerste dag met ‘n nederlaag van 2–0 teen St Mary’s Kloof afgesluit het. Op dag twee het hulle vir Bloemhof met 1–0 geklop voordat hulle met 2–1 teen Rhenish verloor het. Op die derde en laaste dag het hulle St Anne’s met 3–2 geklop voordat hulle teen Waterkloof verloor het.
Oranje se veldtog het met ‘n nederlaag van 1–0 teen Bloemhof begin, gevolg deur nog een van 2–1 teen Eunice en daarna ‘n gelykopstryd (0–0) teen Waterkloof. Op die tweede dag het Rhenish vir Oranje met 3–0 getroef, waarna Oranje met 0–0 teen St Mary’s gelykop gespeel het. Hulle het met 1–0 teen die Hoërskool Menlopark verloor, maar kon die houtlepel vermy toe hulle Our Lady of Fatima met 2–0 met strafdoele geklop het, nadat hulle in die 11de/12de-plek-uitspeelwedstryd met 1–1 gelykop gespeel het.
Hoewel dit nie die ideale uitslae was vir die spanne van Bloemfontein nie, was hulle veggees op die astro’s uit die boonste rakke, en die spelers kan hul koppe hoog hou. Dit was wel die laaste toernooi vir vele van die jong dames van die twee spoghokkieskole, en hulle kan sonder twyfel trots wees op hul bydrae tot die sport in Bloemfontein, die Vrystaat en Suid-Afrika. – MORGAN PIEK







