Die Coetzee-familie van Heidedal het saam besluit hulle wil terugploeg in die skool waar hul skoolloopbane begin het.
Phill Coetzee, en sy broer dr. Cassius Coetzee, is oud-leerders van Joe Solomon Primêre Skool in Bloemfontein. Hul pa, Izak Coetzee, is ook die voormalige hoof van Dr Blok Sekondêre Skool.
“Ons het besluit om iets vir die gemeenskap te doen,” het Phill Coetzee, uitvoerende beampte van Inemuri, vertel.
“So twee maande terug het ons begin met hierdie projek, waar ons met die onderwysers en die hoof begin betrokke raak het,” het hy bygevoeg.
Die jonkste skenking, ’n skootrekenaar en projektor, is die tweede skenking wat die Coetzeefamilie aan die skool gemaak het. “Hierdie inisiatief is begin omdat ons weet dat onderwysers sukkel, so ons wou weet wat ons kon doen om te help,” het Coetzee vertel.

“Hulle het ons genooi om die nuwe gebou te sien, want toe ek hier was, was dit nie so mooi soos wat dit nou is nie.”
Coetzee het met die skool gepraat om uit te vind hoe sy maatskappy, asook sy familie, kon help.
“Nou wil ons saam met hulle stap om te sien hoe ons verder kan help, en watter idees hulle het,” het hy gesê.
“Nou kyk ons hoe ons talent in die gemeenskap kan ontgin, en hoe ons onderwysers en leerders kan help.”
Verder het Coetzee vertel: “Omdat ons almal uit hierdie gemeenskap kom, en ons almal hier begin het, weet ons hoe belangrik dit is om ’n goeie voet in die deur te hê.”
Grant Beukes, een van die onderwysers van Joe Solomon, het verduidelik hoe die skool beplan om die nuwe skootrekenaar en projektor te benut: “Die plan is om dit te gebruik in die biblioteek”.
“Ons gaan die projektor gebruik vir onderwysers vir lesse,” het sy kollega, Salomie Mouers, bygevoeg.
“Ek glo dat onderwysers, deur skootrekenaars te gebruik, beter lesse kan aanbied met oudio- en visuele stimulasie,” het Beukes vertel.
“Ons doel is om met die grondslagfase te begin en dit geleidelik te bevorder soos die kinders ouer word,” het onderwyser Tammy Anthony vertel. “Ons doel is om die leerders in alle gebiede te ontwikkel.”
Inemuri en die Coetzee-familie beplan om ’n pad met hul alma mater te stap, en die lewens van leerders en onderwysers by Joe Solomon te verbeter.
Warren Hawkins