Goeiedag
“Wat het ek julle gesê – die Bulle gaffel boontoe. Om die Stormers 28-12 te klop en hulle te weerhou van enige punte wil gedoen wees. Die manne in blou kom nou weer in hul wengroef. Ons is nou weer agtste op die Superrugby-puntelys. En aan die voorpunt was jong spelers soos Handré Pollard, Paul Willemse, Marcel van der Merwe en Jacques du Plessis, terwyl Francois Hougaard weer die spel begin speel wat hom pure Bok maak. I rest my case. Look at the scoreboard,” begin Botterbul Bester ons weeklikse saamtrek met groot bravade.
“Hokaai, Botterbul. Jou probleem is dat jy te veel na die staatsaanklaer Gerrie Nel geluister het. Verbeel jou dat jy nou I rest my case gebruik. As daar iemand is wat moet oorslaan Engels toe is dit ek met my Haaie-span. Ek is disgusted, ja, keelvol. Dit was een van die Haaie se swakste vertonings nog, die verloordery van 16-9 in Canberra. Verbeel jou, ’n rugbyspan vol Bokke wat deur Jake White afgerig word, gebruik uitsluitlik dryfentjies om die Brumbies te probeer klop. Ek moes ’n verwisseling van bykans ’n honderd skoppe aanskou terwyl die twee voorste spanne slaags was. Waar is die ondernemende hardlooprugby en kragtige dryfspel? Nee magtig, as die topspanne só speel, is daar groot fout,” laat Stywelip Carrington omgekrap van hom hoor.
“Ons Kapenaars het geen verskonings nie. Die Stormers is eenvoudig nie vanjaar opgewasse nie. Daar is net te veel beserings in die Stormer-kamp. Ondanks goeie individuele vertonings deur Juan de Jongh en Schalk Burger Saterdag is die Stormers nie ’n skadu van verlede seisoen nie,” probeer Bontie Bonthuys uit die Kaap paai.
“Daar is iewers ’n groot skroef los in die Cheetah-kamp. Ek kan mos sien ons het die talent. Spelers wat met die beste ter wêreld kan saamgesels. Die fout lê by die spankeuses en afrigting. Hoe kan die Cheetahs ’n wedstryd in hierdie stadium met beserings, vertonings en alles in ag geneem, sonder Riaan ‘True Blue’ Smit, Elgar Watts en Trevor Nyakane in die beginspan speel? Waar is die planne om aanvalwapens soos Willie le Roux en Raymond Rhule te gebruik as die agterlyn nie doeltreffend ingespan word nie? Sarel Pretorius is kookwater. Die losvoorspelers, Heinrich Brüssow, Boom Prinsloo en Oupa Mohoje, speel verwoed en die Cheetahs wen die lynstane, maar kan nie drieë druk nie. Dit is onaanvaarbaar. Hoekom is die Cheetahs in trurat in die skrums?“ wil Oom Sjert omgekrap weet.
“Oom Sjert, vernuwing is nodig. Nie net by die Cheetahs en Stormers nie, maar in alle Suid-Afrikaanse sport. Dit begin mos vir my lyk asof ons begin gewoond raak aan tweede beste. Kyk na ons atletiek, krieket, hokkie, tennis, gholf en bykans elke ander sportsoort, behalwe dalk swem,” probeer Sporie Bezuidenhout om ’n antwoord te gee, maar dit is vergeefs, want toe redekawel die manne eers.
Groetnis.







