E Copy

Date:

Gehoorgestremde sjef hoop om ’n verskil te maak

Johan Liebetrau is ’n 45-jarige ervare sjef wat hom nie deur sy gehoorgestremdheid laat terughou nie. Alhoewel hy weens breinvliesontsteking op die ouderdom van 3 doof geword het, bedryf hy tans Liebe’s Catering en help ook ander mense met gehoorprobleme.

Liebetrau het in Carletonville grootgeword en is ’n oudleerling van die Transoranje Skool vir Dowes in Pretoria, waarna hy drie jaar by Carletonville College gestudeer het.

In 2023 het Liebetrau saam met sy vrou van twintig jaar, Lazinda of “Lassie”, en hul seun uit haar eerste huwelik na Bloemfontein verhuis. “Ons almal is gehoorgestremd en gebruik gebaretaal en gehoorapparate. Ons is ook afhanklik van lippelees,” verduidelik Liebetrau.

Liebetrau het intussen naby Botswana gewerk, maar sy droom was altyd om vir homself te werk en meer tyd saam met sy gesin deur te bring, wat hom Bloemfontein toe gebring het. “Ek raak sommer lief vir Bloemfontein ook,” vertel hy. “Ek het goeie dowe vriende hier.”

Johan het meer as 25 jaar ervaring as hoofsjef by verskeie hotelle en lodges. Met sy besigheid, Liebe’s Catering, berei hy daaglikse etes, tuisgemaakte pasteie, konferensiekos, troues, spitbraaie en jagtersetes voor. Hy maak ook ’n unieke chili- en jalapeño-sous.

Volgens Liebetrau is sy gehoorgestremdheid nie ’n hindernis in die kombuis nie. “Dit het my nooit gepla nie en dit was nie vir my ’n hindernis nie,” vertel hy. “Ons kommunikeer deur middel van skryf of beduie, so leer ’n mens mekaar verstaan. Doofheid was nooit in my pad nie en hoewel struikelblokke altyd daar gaan wees, is daar ander maniere om die struikelblokke te oorkom.”

Liebetrau gee ook terug aan die dowe gemeenskap in Bloemfontein deur middel van basiese sjef-opleiding vir werklose gehoorgestremde mense in gebaretaal, sodat hulle hul ondervinding kan opbou en werk kan kry. Hierdie projek vereis baie van die sjef, wat nou ondersteuning benodig om sy kombuis uit te brei en beter in te rig.

“’n Groot sesplaat-gasstoof, ’n koffiemasjien en ’n ‘food trailer’ vir feeste en markte sal my besigheid en die dowe werkskeppingsprojek baie help,” het hy verduidelik.

Liebetrau gee advies aan ander gehoorgestremdes: “Moet nooit terugstaan nie, omrede ons goed is met ons hande en ons ons vaardighede kan uitbrei.” Hy voeg ook by: “Ongelukkig sal daar altyd boelies in ’n kombuis wees, maar moenie dat hulle jou onderkry nie. Al probleem is ons ore, nie ons hande nie.”

Sy positiewe ingesteldheid en toewyding bewys dat geen beperking te groot is om jou drome na te streef nie.

Kliënte of enigeen wat Liebetrau wil ondersteun, kan hom kontak oor WhatsApp by 083 457 2212, of ’n e-pos stuur aan [email protected].

 

Warren Hawkins
[email protected]

Share post:

Popular

More like this
Related

Agricultural terminology workshop promotes workplace inclusion through SASL

The department of agriculture, rural development and environmental affairs...

Pencil In: 23 July 2026

23 July: Prosperity Enterprises will host a Property Investors’...

Government welcomes 0.5% GDP growth in first quarter

Government has welcomed South Africa's 0.5% gross domestic product...

Power interruption at Market DC

Centlec has notified residents of a power outage at...