Martie du Plessis-skool het gister vir ‘n paar minute ‘n nuwe ‘student’ in een van die klasse verwelkom.
Sowat ‘n 1,3 meter lange geelslang het by Juffrou Hené Cilliers se klas ingeseil gekom. Die leerders en onderwysers is oorweldig deur nuuskierigheid. Daar was selfs ‘n paar dapper helde onder hulle, totdat hulle besef het hoe lank en groot die slang werklik was. Spoedig het hul opgewondenheid oor die ongenooide ‘vriend’ verander in redelike skeptisisme.
Seymour Betts, een van die leerders, het gesê, “Ek was nie baie opgewonde oor my nuwe klasmaatjie nie.”
“Ons vermoed dat die slang van ‘n nabygeleë veldjie agter die skool af gekom het en op soek was na kos en water,” het Ronnie Bester, sportorganiseerder en bemarker by die skool, vertel. Hulle het toe vir Carl Jackson, ‘n slangkenner, gebel en dié het die slang kom verwyder. “Ek sal hom vir enigiemand aanbeveel; hy is baie professioneel en vining,” maak Bester grappe.
Vir die leerders was dit ‘n dag vol opwinding. Behalwe vir dassies, ganse en eende, gebeur dit nie elke dag by die skool dat hulle besoek kry van ‘n geelslang nie. – JERETHA OOSTHUIZEN
[email protected]
Date:
Geelslang maak amok by Martie du Plessis
Slangkenner Carl Jackson het tot Martie du Plessis-skool redding gekom.







