Die Valke in die Vrystaat maan mense om op hul hoede te wees vir booswigte wat hul voordoen as polisiebeamptes en mense dan bedrieg. Dit kom nadat ‘n bejaarde man van Welkom Saterdag ingeloop is en R1 000 moes betaal sodat ” ‘n saak van lank gelede” deur die bedriër se toedoen, kan wegraak. Die klagstaat gaan oor ‘n ongeluk waarin hy glo met ‘n polisiemotor betrokke was.
Die Valke se S’fisob Nyakane, sê die ou man was nooit in ‘n ongeluk nie, maar het uit vrees voorlopig R400 betaal. Hy het onderneem om die res van die geld wat die booswigte gesoek het later dieselfde dag te betaal. Die bejaarde man het daarna die polisie genader.
Nyakane sê die 52-jarige Mooketsi Thejane het gister vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn nadat die Valke hom Saterdag in hegtenis geneem het toe hy die res van die geld by die bejaarde man wou gaan haal het.
Ná ander voorvalle waarsku Nyakane mense ook teen ‘n swendelaar wat hom as ‘n brigadier in die polisie voordoen en poste asook bevorderings aan mense en slefs polisiebeamptes verkoop.
Die swendelaar doen hom voor as brigadier Modiese. Die werksoekers moet tussen R1 000 en R3 000 in sy gelmarkrekening inbetaal om dan in aanmerking te kom vir ‘n vakante pos. Nyakane sê drie sake is al in dié verband geopen. Die polisieondersoek duur voort.
Hy vra mense wat deur Modise genader word om hul naaste polisiekantoor of 082-455-6035 te bel.
Thejane, wat teregstaan op aanklagte van bedrog en die valse voordoening as ‘n lid van die polisie, bly in aanhouding en sal na verwagting eerskomende Maandag in die landdroshof in Welkom verskyn. Sy makker is steeds op vrye voet. – Christal-Lize Muller







