Graan SA se 52ste Nampo-oesdag het gister buite Bothaville afgeskop. Die oesdag sluit op 18 Mei.
Daar is groot opgewondeheid oor die groei in Nampo, wat reeds een van die grootste landbou ekspo’s in die Suidelike Halfrond is. Volgens Dirk Strydom, bestuurder: graanekonomie-bemarking van Graan SA, is daar heelwat nuwe inisiatiewe wat vanjaar by Nampo geïmplimenteer word.
“By die Nampo-padstal kan mens ‘n verskeidenheid verwerkte landbouprodukte koop. Ons het ook nuwe hommeltuie wat gedemonstreer gaan word.
“ ‘n Wildsaal is ook ‘n nuwe inisiatief wat jag- en wildliefhebbers sal lok. Daar is ‘n 4×4- avontuurbaan, wat hoofsaaklik oor motorfietse en groot vierwielaangedrewe voertuie handel,” sê Strydom.
Die dames kan ook opgewonde wees oor die vroueprogram waarin die skreeusnaakse Marion Holm onder meer die gehoor gaan laat skater.
Luidens Nampo se webtuiste is daar vanjaar ongeveer 740 uitstallers. Die oesdag se verwagte bywoningsyfer kan verlede jaar se 78 648 besoekers verbysteek.
“Die Nampo-oesdag word beskou as die hartklop van Suid-Afrika se landbou. Dit bied produsente ‘n unieke platform om netwerke met die landboubedryf se top rolspelers te bou. Vriendskappe en verhoudings word ook versterk.’’
Kaartjies is aanlyn by Ticketpro of by die hek vir elke afsonderlike dag beskikbaar. Let wel dat elektroniese kaartjies goedkoper is, so bespreek nou aanlyn. Vind meer uit oor die Nampo-oesdag by http://www.grainsa.co.za/pages/nampo/exhibitors/general-information. – Zilke Prinsloo
[email protected]







