Eunice-mark vier 21ste jaar

0
629

Die gewilde Eunice-kersmark vier vanjaar sy 21ste verjaardag met die tema “Celebrating old favourites and new creations”.

Die mark het drie doelwitte waarop gefokus word: As platform vir crafters waaruit ‘n besigheid onstaan; ‘n inkomste vir werknemers wat weer kan kos op die tafel kan sit; iets spesiaals vir die gemeenskap.

Mag Marais, hooforganiseerder sedert 2000, meen daar is baie dinge om na uit te sien hierdie jaar. “Vanjaar is daar ‘n paar nuwe uitstallers. Besoekers kan uitsien na ‘n koppie komplimentêre koffie, mense kan deurstap, die mark geniet, en die kreatiwiteit en mooi dinge waardeer.”

Die verskeidenheid geskenkies bied iets vir ‘n ieder en ‘n elk, die deli in die personeelkamer voorsien besoekers van heerlike eetgoed, en besoekers kan uitsien na varsgebak, smullekker pasteie en ‘n menigte ander lekkernye.

Die mark sal vanjaar vir die laaste keer deur Marais gereël word. Ná 21 jaar gee sy die leisels oor aan Jhani de Abreu. “Daar is so baie dinge om te onthou en soveel herinneringe om te koester. Ek het maar gemengde gevoelens, want dit is soos ‘n kind wat ek grootgemaak het,” het Marais gesê.

Sy gaan steeds jaarliks op konsultasiebasis beskikbaar wees, hoewel haar voorkeur steeds sal wees om die wêreld plat te reis.

De Abreu meen sy het groot skoene om vol te staan. “Die ondervinding en kennis wat Mag deur die jare opgebou het, gaan nie maklik wees om te ewenaar nie. Om dié jaar by haar te kon leer, was goed en dit was verskriklik lekker om saam met haar te werk.”

Zinette de Wet, skoolhoof van Eunice, sê, “Die Eunicefamilie beskou die geleentheid om die mark vanjaar, ten spyte van beperkinge vir die 21ste keer aan te bied, as ‘n absolute voorreg.

Om vanjaar die mondigwording van die mark nog ‘n keer saam met Mag Marais te kan vier nadat sy die Eunice- onderwyskorps in 2021 gegroet het, is selfs ‘n groter voorreg. Haar strewe na perfeksie, haar aansteeklike energie en besonderse skatkis van ervaring lê die boustene vir uitnemendheid vir toekomstige markte.

Die Eunice-span sien met trots daarna uit om die breë Vrystaat-gemeenskap te ontvang.” Die mark vind plaas van 27 Oktober tot 6 November, 10:00 tot 19:00, maar sluit op 6 November om 14:00.

Alle Covid-19-maatreëls sal in plek wees en protokol sal gevolg word. Besoekers sal, of by wyse van ‘n QR-kode ‘n vorm invul via ‘n skakel op Facebook, of ‘n vorm by die skool invul en teken.

Jeretha Oosthuizen

info@bloemfonteincourant.co.za