Zapata, toe en nou

0
Zapata, toe en nou

Toe Franky Zapata ‘n paar weke gelede koel en kalm met sy supersoniese skaatsplankkontrepsie oor die Engelse Kanaal vlieg, het ek alles met groot belangstelling op televisie gevolg.

Hy het kort tevore al, op Bastilledag, die ganse Parys aan sy voete gehad toe hy kruis en dwars oor die Champs-Élysées toertjies gedoen het. President Emmanuel Macron, die man wat mos met sy skooljuffrou getroud is, was só in die wolke dat hy die vlieënde Fransman glo ‘n miljoen euro uit die staatskas aangebied het vir “verdere ontwikkeling”.

Franky het my verstom met sy vreemde, vlerklose vliegplank, maar daar was nog ‘n rede waarom ek kiertsregop voor die TV gesit het. Elke haar op my kop het gerys toe ek hoor wat die Fransman se van is.

Dalk net, ter wille van Generasie X en die Millenniërs, ‘n opmerking of twee. Daar wás ‘n tyd, lank, lank gelede, toe ons nie televisie in Suid-Afrika gehad het nie. Nada, niks. Daar was ook nie selfone nie. Nie YouTube nie. En glo dit gerus, géén internet nie.

Nou wat het ons gedoen, vra jy? Ons het fotoverhale gelees. Dit was spanningsreekse, wat as sulke klein, slapband, A5-grootte publikasietjies verkoop is. Ons ouers het vas geglo dis van die duiwel en dat dit tot ewige verderf en verdoemenis sou lei.

Die gevolg was dat ons die fotoboekies in die geheim moes koop en onder ons matrasse wegsteek. O, en die uitruilery tussen pelle. Een so ‘n fotoverhaal sou maklik deur tien huishoudings gaan.

Die groot held was ‘n soort Afrikaanse James Bond. ‘n Aantreklike javel wat die meisies om sy pinkie kon draai en die skobbejakke op hulle neuse laat kyk. Mark Condor was sy naam. Mark se nemesis was ‘n aartsskurk, ‘n reus van ‘n man wat in elke wrede gesigsuitdrukking op daardie swart-en-wit foto’s die bose versinnebeeld het. Sy naam? Reg geraai. Zapata. Nes die vlieënde Fransman.

Julle jongmense gaan ook eendag na julle jeug as die goeie ou dae verwys. Maar júlle goeie ou dae kom nie náby ons goeie ou dae nie!

Albé Grobbelaar

No posts to display