Die blinde Bloemfonteinse middel- en langafstandatleet, Louzanne Coetzee, het Saterdag tydens ‘n luisterryke geleentheid saam met haar gids, Khothatso Mokone, die eerbewys ontvang as FSSAPD (Free State Sports for Athletes with Physical Disabilities) se Sportster van die Jaar.
Vrystaatse sportlui met fisieke gestremdhede se vertonings van Julie 2015 tot Junie 2016 is in ag geneem vir eerbewyse. Coetzee is die huidige SA rekordhouer in die 800m, Afrika-rekordhouer in die 1500m en die wêreldrekordhouer in die 5000m vir senior vroue vir volkome blinde atlete (T-11-kategorie). Sy beklee die derde plek in die 800m, vierde in die 1500m en is die voorloper in die wêreld (2016) in die 5000m. Sy is die eerste atleet in die wêreld wat die 5000m in haar kategorie in onder 20 minute kon baasraak.
Coetzee en Mokone het onlangs in Berlyn die Afrika-rekord in die 1500m verbeter en dit het die deurslag gegee dat sy die enigste gestremde sportvrou in die Vrystaat is wat SA op die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro gaan verteenwoordig (1500m). Juan Odendaal is aangewys as die FSSAPD-Sportman van die Jaar. Dít nadat hy ‘n rits skitterende prestasies ingeryg het.
Dié gestremde (C3-kategorie) fietsryer het SA op die 2015-Wêreldbeker verteenwoordig waar hy agtste in die padwedren en tiende in die tydtoets geëindig het. Hy het boonop in Manchester (Engeland) op ‘n ope baanfietsry-byeenkoms vyfde geëindig in die 3km- enkelagtervolging en 1000m-tydtoets. Odendaal, huidige SA kampioen in die padwedren en padtydtoets, het weer in 2016 aangetree vir die Wêreld-baankampioenskap in Italië waar hy die 16de, 17de en 11de plek in onderskeidelik die 1000m-tydtoets, 3km- enkelagtervolging en wat bekend staan as die Scratch-wedren losgetrap het. Sy beste prestasie is waarskynlik sy twee goue medaljes en oorwinning tydens die Wêreldbekerreeks.
Odendaal is tans die nommer-een gekeurde C3-kategorie-fietsryer in die wêreld.
Juanelie Meijer en Dineo Mokhosoa is gesamentlik aangewys as Sportvrou van die Jaar. Meijer het SA verteenwoordig op die wêreldkampioenskap in haar afdeling (T38) en is tans tiende in die 200m, 11de in die verspring (Afrika-rekord) en 17de in die 100m op die wêreldranglys. Mokhosoa beklee in haar kategorie (T-36) onderskeidelik die tweede plek (Afrika-rekord, verspring), vyfde (diskusgooi) en 13de plek (diskusgooi) op die genoemde ranglys.
Die juniors het ook hul merk gemaak en die kranige driewielfietsryer, Jaedan Gouws, se vier goue medaljes op die nasionale kampioenskap, wat twee SA rekords (800m en 1500m) insluit, was genoeg om hom met die eerbewys as beste Junior Sportman van die Jaar te kroon.
Emmarentia Venter is aangewys as Junior Sportvrou van die Jaar vir haar goue driekuns op die SA atletiekkampioenskap waar sy die 100m, 200m en verspringtitels (T47-kategorie) gebuit het. Sy het in die proses die SA rekord in die 100m agter haar naam geskryf. – RUFUS BOTHA