Ysemmer-uitdaging vir ‘n goeie doel

0
971
Uitverende hoof en stigter van Guardian and Angel, Hester Bekker.

Die Bloemfonteinse niewinsgewende organisasie, Guardian and Angel, reik weer uit na minderbevoorregtes in en om die stad wanneer hulle ‘n nuwe uitdaging aanbied.

Ondersteuners word genooi om deel te neem aan hul ysemmer-uitdaging (ice bucket challenge), wat beloof om ‘n ‘ysige’ maar prettige ervaring te wees. Die geld wat hierdeur ingesamel word, gaan vir kosaankope vir minderbevoorregte mense wat deur Guardian and Angel gehelp word.

Die organisasie bestaan uit mense wat in alle opsigte beskerm-engele is vir diegene wat hulle nodig het en doen op die oomblik baie in die gemeenskap, onder meer deur hulpverlening met kos en klere, linne, meubels asook vervoer vir mense wat by dokters moet uitkom.

Die uitvoerende hoof en stigter van die organisasie, Hester Bekker, het aan Bloemfontein Courant vertel dat daar drie mense is wat deelneem aan die uitdaging. Syself, Nico Niemand en Magda van der Bank. Sy het verduidelik dat hulle op Facebook gevra het vir mense om hulle te help om aan idees te dink om fondse in te samel en so het Simone Griesel met die idee van ‘n ysemmeruitdaging gekom.

Bekker sê mense kan kies watter van die deelnemers hulle wil ondersteun en dan vir die persoon stem deur ‘n bydrae in te betaal met die persoon wat hulle ondersteun se naam as verwysing. Die persoon met die meeste stemme, sal dan ‘n emmer met ys op die ander twee deelnemers kan uitgooi. Die hele episode sal lewend op Facebook gevolg kan word.

“Dit hoef nie ‘n groot bedrag te wees nie, mense kan selfs R5 inbetaal; ons is dankbaar vir enige donasie,” sê Bekker, terwyl sy ‘n beroep doen op mense om deel te neem en vir haar te stem. “Bloemfontein julle ken my hart, help my asseblief om te wen,” het sy skertsent gesê.

Vir meer inligting oor waar om geld in te betaal, kan Bester gekontak word by 072-423-6277.

Sazly Hartzenberg  

sazly@mahareng.co.za