Worshondkarnaval lok honderde

0
1686
Rory Potgieter en sy worsie, Jack, het die "Look alike"-afdeling gewen.

Die worshondkarnaval wat Saterdag by Pretty Gardens in Bloemfontein gehou is, het honderde toeskouers gelok.
Rory Potgieter, eienaar van die worsie Jack, het die meeste aandag getrek. Dié twee het die “Look alike”-afdeling onder luide toejuiging gewen. Potgieter was in ‘n netjiese swart pak geklee terwyl Jack in dieselfde kleure getooi was.
Tequila en sy eienaar, Elmarie van der Merwe, het die prys opgeraap vir deelname aan die meeste kategorieë van die kompetisie. Hulle was in elke afdeling in aksie.
Een van die gewildste afdelings was die kategorie vir die worshond met die korste bene. Hier het worsies opgedaag waarvan die bene só kort was dat hul bolywe net-net nie aan die grond raak nie. Jolandi van der Merwe en haar beste vriend, die worshond Vicky, het in hierdie afdeling koning gekraai.
Die wenners van die ander afdelings was:
Langste hond: Tequila (Elmarie van der Merwe). Stert wat die meeste swaai: Obelix (Michelle Erasmus). Mooiste geklede worshond: Twinkels (Deidré Schultz). Oulikste kruising: Scooby (Douw du Plessis) en Chippie (Divan Reynders), Mees unieke klere: Butch (Ilisna Nel) en Molly (Marius Nolte). Beste toertjies: Lappies (Janneke Joubert). Mr Walkabout: Fred (Charise van Jaarsveld). Ms Walkabout: Boena (Anna-Mart Jacobs) en Pragtigste worshond: Spud (Marzanne du Toit). – Rufus Botha
info@bloemfonteincourant.co.za