’n Saak is onlangs voor die hof gebring waarin die inwoners van die Woodlands-landgoed pleit om nie meer van die Mangaung Metro-munisipaliteit (MMM) se dienslewering gebruik te maak nie.
Volgens Max Blom van die Mangaung Ratepayers Association (MRA) het Willem van Huyssteen, uitvoerende hoof van die Hillandale Home Owners Association, in ’n verklaring aan die hof gesê die landgoed behartig sy eie vullisverwydering deur middel van onafhanklike kontrakteurs. “Advokaat Stefan Grobler (Senior Advokaat) het voor regter Pitso Molitsoane gevra dat die 1 450 woonerwe op die landgoed van die metro se vullisverwydering vrygestel sal word. Die advokaat het dit ook aan die hof gestel dat die landgoed met dorpstigting in 2004 en 2018 goedkeuring ontvang het, op voorwaarde dat die gebied vir sy eie vullisverwydering verantwoordelik sou wees,” beweer Blom.
Hy voeg by dat alhoewel die MMM wel op ’n stadium vullis verwyder het, is daar klagtes oor die swak diens ontvang. Privaat kontrakteurs is toe aangestel wat die werk nou suksesvol verrig. “Die MRA verwelkom pogings om die las van swak dienslewering deur die metro af te skud.
Belastingbetalers kan nie vir swak en gebrekkige dienslewering betaal, terwyl onafhanklike diensverskaffers die diens moet lewer nie. Die tyd het aangebreek om die funksies van die metro te privatiseer, omdat dit vir almal duidelik is dat die sogenaamde ‘diens’ net ‘n melkkoei vir astronomiese salarisse is,” het hy gesê.
Bloemfontein Courant het na die uitvoerende hoof van die Hillandale Home Owners Association uitgereik vir kommentaar oor die saak. Volgens Van Huyssteen kan hulle nie veel meer sê as wat in Vrydag se Volksblad geskryf is nie want die regter het uitspraak voorbehou.
Die publikasie het ook na die MMM uitgereik, maar geen kommentaar is teen druktyd gelewer nie.
Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za