Wolbom tref Bloem in September

0
1842

MARICELLE BOTHA

Vir lank was dit ‘n droom om in haar gemeenskap iets betekenisvols te doen en hekel was nog altyd vir haar ‘n groot liefde. Verlede jaar het die 27-jarige Veronica Schmitt, ‘n plaaslike rekenaar- forensiese ondersoekbeampte, besluit om haar passies te kombineer en ‘n hekel en klets-groepie op die been gebring.

Behalwe vir Schmitt se beoogde gemeenskapsbetrokkenheid, het sy ook ten doel gehad om die hekel-kultuur aan die gang te hou en te bevorder. Vandag is daar reeds ongeveer 30 vroue van die Bloemfontein-omgewing tussen die ouderdom 27 en 50 betrokke. Hier word aan sogenaamde "ouma-blokkies" en komberse gehekel dat die stof staan. Die komberse wat dan geskep word, word aan minderbevoorregte kinders en oumense geskenk. Sedert die groep in Junie begin het, is reeds 50 komberse voltooi.

"Ek self hekel al ongeveer nege jaar, maar wat lekker is van ons groepie, is dat daar vrouens is wat jare lank al brei, asook diegene wat nou eers begin leer. Ons gesels oor patrone en gee mekaar raad. Dit is sommer net lekker saamkuier."
Die groep dames is só deur die wolbom wat verlede jaar in Pretoria by die Voortrekkermonument gehou is geïnspireer dat hulle besluit het om ‘n soortgelyke projek in die Rosestad van stapel te stuur.


Die wolbom verlede jaar by die Voortrekkermonument.

Die Wolbom Bloemfontein 2015 word op 5 September in samewerking met die Vrouemonument gehou.
Volgens Schmitt beoog hulle om meer as 300 komberse van alle kleure en vorms uit te pak. Op die dag sal daar fees gevier word en hekel as handewerk gaan sy ware kleure wys. "Die monument se bestuur is ook baie opgewonde oor die projek. Ons hoop om die hele voestuk en trappe van die monument met kleurryke komberse te bedek, " vertel sy.

Sowat 27 800 gebreide en gehekelde blokkies is in Augustus verlede jaar gebruik om al die trappe na die Voortrekkermonument toe te pak. Die doel van die inisiatief was ook om brei- en hekelwerk te bevorder. Meer as 650 komberse is aan verskeie liefdadigheidsorganisasies geskenk.

Hoe kan ek betrokke raak?
Daar is verskeie maniere. Belangstellendes kan of blokke skenk van 20x20cm, gehekel met dubbeldraadwol, of komberse van enige grootte wat reeds voltooi is. Indien jy nie kan hekel nie, kan wol geskenk word.

Schmitt daag elke maatskappy uit om blokke te skenk, of wol in korporatiewe kleure wat in die allermooiste komberse omgeskep gaan word. Laat wikkel jul hekelpenne, Bloemfonteiners. Vir meer inligting oor die projek kan Schmitt gekontak word by veronica@fairygodmothers.co.za of 082-040-1520.

Volg die projek ook op Facebook by Wolbom Bloemfontein 2015.

maricelle@centralmediagroup.co.za