Woelige Jasper is terug op die veld

0
13983
Die vuurvreter-losvoorspeler, Jasper Wiese, het Saterdag in 'n oefenwedstryd vir die Cheetahs teen die Varsitybeker-kampioene, die Universiteit van Stellenbosch Maties, gespeel. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs het vandeesweek ‘n punt om te bewys wanneer hulle Saterdag in Bloemfontein teen die Southern Kings te staan kom in die tweede Guinness PRO14-buurstryd van die seisoen.

Verlede week in die Baai het die Cheetahs se heelagter, Rhyno Smith, in die doodsnikke ‘n uitstekende drie gedruk vir ‘n 31 – 30-sege nadat die span van die Rosestad die hele wedstryd agter was.

Die was ietwat van ‘n geniepsige affêre in Port Elizabeth en die Kings se tussentydse afrigter, Robbi Kempson, was glad nie beïndruk nie.

Kempson het na afloop van die kragmeting ‘n ernstige waarskuwing aan die Cheetahs gerig en ook die slot, Sintu Manjezi, uitgewys. Manjezi, wat voorheen vir die Kings gespeel het, sal dalk hierdie week se kragmeting misloop weens ‘n skouerbesering.

“As dit is hoe die Cheetahs wil speel, dan kan my span presies dieselfde doen. Ek is baie gemaklik met konfrontasie en hulle kan dit volgende week in ‘n erger graad verwag,” het die voormalige Springbokstut, Kempson, na die wedstryd gesê.

“Dis tyd dat die Kings terugstaan en week ná week deur ander spanne mishandel word, is verby.

As hulle wil boks, is ons meer as tevrede om kop teen kop te staan en dit te doen.”

Dit gesê, verwag die Cheetahs ‘n fisieke stryd vandeesweek, en hulle sal glad nie terugstaan daarvoor nie. Hoewel Manjezi ‘n groot verlies vir die span sal wees, is daar egter baie goeie nuus.

Die vuurvreter-losvoorspeler, Jasper Wiese, maak sy terugkeer tot die span nát sy skorsing van drie weke.

Die Cheetahs se breier, Hawies Fourie, het aan Bloemfontein Courant bevestig dat Wiese vandeesweek weer die trui oor die kop sal trek.

“Ons het hom nogal gemis. Hy is ‘n vaardige speler met krag en spoed, dus bring hy baie na die tafel. Hy is die naweek terug en ons sien uit daarna.

Aan die ander kant kan Sintu die wedstryd misloop, omdat hy steeds beseer is. Dus kry ons een, en verloor een.

“Hulle het beslis die kontakstryd in die eerste helfte gewen. Ons het halftyd daaroor gepraat en in die tweede helfte sake reggestel. As ons net ‘n bietjie meer kontinuïteit kan kry en deur meer fases kan speel en hul verdediging kan uitstrek, is ek redelik seker dat ons die lynbreke en drieë sal kry wat ons moet aanteken.”

Fourie sal sy span vir dié buurstryd Vrydagmiddag om 14:00 aankondig. Saterdag se wedstryd in die Toyota-stadion skop om 17:00 af. – MORGAN PIEK