Winburg-hofbevel ‘n oorwinning vir erfenis

0
Winburg-hofbevel ‘n oorwinning vir erfenis
Só lyk die Winburg-konsentrasiekamp-begraafplaas se vernielde grafte.

Die Masilonyana-munisipaliteit in die Vrystaat het 60 dae om met ‘n plan te kom vir die rehabilitasie van die Winburg-konsentrasiekampbegraafplaas. Die terrein moet beskerm word.
Dit volg nadat AfriForum, drie belastingbetalers van Winburg en die Erfenisstigting, wat as vriend van die hof opgetree het, op Donderdag 26 Mei 2016 ‘n jare lange regstryd gewen het teen die munisipaliteit. Daar was ontevredenheid oor laasgenoemde se swak bestuur van die terrein.
Die terrein bestaan uit gedenktekens, grafte en unieke grafstene van slagoffers wat tydens die Anglo-boereoorlog deur Britse soldate in Winburg se konsentrasiekamp aangehou is.
AfriForum se adjunk- uitvoerende hoof, Alana Bailey, sê die munisipaliteit moet nou die gestorte rommel in die omgewing opruim, die terrein en pad daarheen onderhou, en toesien dat onwettige gruisgrawery in die omgewing gestaak word.
“Dit is ‘n skande dat die munisipaliteit sy verantwoordelikheid om dit te onderhou in so ‘n mate verontagsaam het dat regsaksie die enigste uitweg was om dit van vernietiging te red.”
AfriForum het reeds in Julie 2012 ‘n aansoek teen die munisipaliteit gebring. Bailey beskou die hofbevel as van groot belang omdat dit alle owerhede herinner aan hul wetlike verpligting om Suid-Afrika se kultuurhistoriese erfenis te bewaar.
“Tot dusver was die toestand van Winburg se konsentrasiekampbegraafplaas ‘n voorbeeld van hoe dit nié gedoen behoort te word nie. Hopelik is die hofbevel ‘n keerpunt in dié verband en kan die munisipaliteit en gemeenskap in die toekoms saamwerk om die terrein te herstel en te onderhou,” sê Bailey in ‘n verklaring.
Die senior bestuurder vir Erfenisbewaring, Cecilia Kruger, sê dit is ‘n oorwinning vir erfenis in Suid Afrika.
“Ons het baie werk ingesit. Oor drie of vier jaar het ons die terrein seker vyf keer gaan opknap. Dit het egter nie gehelp om die begraafplaas self op te knap nie. Die pad wat na die terrein lei, waar die vullis gestort was, was die eintlike probleem. Dit kan ‘n wonderlike voorbeeld wees vir ander dorpe landwyd waar ons soortgelyke probleme het,” sê Kruger.
Bailey sê AfriForum sal steeds die situasie by die terrein monitor. – Mark Steenbok
mark@centralmediagroup.co.za

No posts to display