Na aanleiding van my laaste twee rubrieke oor verkeerde besluite met jou aftreegeld, is ek gevra om ‘n bietjie te gesels oor die opsies wanneer jou aftreedag naderkom.
Die belangrikste is om nie te wag tot op die nippertjie voordat jy advies inwin oor die beskikbare produkte en belastingimplikasies nie. Gesels vroegtydig met ‘n finansiële beplanner. Indien jy nie ‘n betroubare een het nie, nader meer as een voordat jy een kies om jou by te staan. Begin ten minste ses maande vóór jou aftreedag gesels oor jou behoeftes, asook die produkte tot jou beskikking. Hopelik kan jy jou aftrede ingaan sonder enige skuld, anders gaan jy van jou beskikbare enkelbedrag (lompsom) moet gebruik om eers skuld te delg. Lede van pensioenfondse kan ‘n maksimum van een-derde van hul fondsaandeel in kontant neem. Hiervan sal slegs R500 000 belastingvry wees, terwyl alles meer as dié R500 000 belasbaar sal wees (lede van die GEPF en ander oud-staatsfondse kan meer belastingvry neem, afhangende van hoeveel jare diens hulle voor Maart 1998 opgebou het).
Lede van voorsorgfondse kan hul volle fondsaandeel in kontant neem, waarvan ook net R500 000 belastingvry sal wees, terwyl die res (bo R500 000) belasbaar sal wees. Lede van voorsorgfondse word dus sterk aangeraai om nie meer as R500 000 in kontant te neem nie en eerder die res te laat oordra na ‘n annuïteitsproduk. Let net daarop dat die R500 000 wat belastingvry aan jou gebied word, enkelbedrae wat jy in die verlede al ontvang het, in ag sal neem. Indien jy byvoorbeeld ‘n paar jaar gelede ‘n uittree-annuïteit gehad het waaruit jy ‘n derde van R100 000 ontvang het, sal jou R500 000 belastingvrye toegewing verminder na R400 000. Dit is algemene praktyk dat jy dan die enkelbedrag (lompsom) wat jy neem, in ‘n plan belê wat jou pensioen sal aanvul. Dié tipe van beleggings is baie belastingvriendelik en afhangende van die grootte van die beleggingsbedrag kan alle opbrengste belastingvry wees (behalwe vir die 15% weerhoudingsbelasting op dividende). Die maandelikse inkomste sal ook belastingvry wees. Volgende week gesels ons verder oor jou opsies by aftrede. – Horace Terry
horace@nassaux.com