Willem Postma vier driekwart-eeu!

0
1415
Pette is spesiaal ontwerp as deel van die skool se verjaardagvieringe. FOTO'S: HEIDRE MALGAS

Een van die oudste skole in Bloemfontein, Willem Postma Primêr, het sy deure amptelik in 1945 oopgemaak en vier op 4 Junie hierdie jaar sy 75ste verjaardag. Vir dié bekende skool is dit ‘n groot, belangrike en geskiedkundige dag. ‘n Verskeidenheid interessante dinge word beplan vir die volgende paar maande.

Die skool se agste hoof, Theunis Jacobus (Jaco) Kotzé, vertel aan Bloemfontein Courant dat hulle elke kwartaal iets groots gaan doen om Willem Postma Primêr se verjaardag te vier. Die pretstap wat jaarliks gehou word, gaan hierdie keer anders wees. “Ons jaarlikse pretstap word op 6 Maart gehou en is deel van ons 75-jarige vieringe. Ons het besluit om dit ‘n kleurfees te maak wat by Emoya Estate sal plaasvind. Al die leerders gaan deelneem, en almal is welkom om die dag saam met ons te geniet,” sê hy. Leerders uit elke graad gaan ‘n verskillende kleur dra vir die 5-km-stap. Waterpunte sal voorsien word, en verversings sal beskikbaar wees.

Die skoolhoof van Willem Postma, Jaco Kotze.

Die skool beplan in die volgende kwartaal ‘n formele verjaardagbal waar die leerders kan spog met pragtige uitrustings. Kotzé sê die bal word op 22 Mei by Ramblersklub gehou en enige oudleerders wat dalk ‘n reünie wil hou, is welkom om ‘n tafel te bespreek of die geleentheid as ‘n groep by te woon.

In September word ‘n ‘Weskus-kuierfees’ gehou wanneer oudleerders, oudhoofde, oudonderwysers en almal wat by die skool betrokke was, ‘n reünie kan hou, alle jaargroepe is welkom by hierdie fees. Later in die jaar sal daar ook ‘n musiekfees wees om die vieringe af te sluit en hier gaan die leerders met hul talente spog.

Om deel te wees van die vieringe, kan mense pette met die skoolwapen en ‘n syfer 75 op by die skool se ontvangs koop teen R80 (mans) en R70 (dames). Willem Postma is ‘n kaalvoetskool, geleë in Dan Pienaar. Vir dié skool is akademie, sport en kultuur baie belangrik. Die skool se sewe waardes: Omgee; Betroubaarheid; Respek; Verantwoordelikheid; Regverdigheid; Goeie burgerskap; Geloof word hier toegepas en geëer.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za