Die Primêre Skool Willem Postma het Woensdag 12 Junie hul Prisma @ Possies se klaskamers vir gespesialiseerde onderwys onthul.
Dié gespesialiseerde klasse by die skool was eers die “Kleinklassie”, ’n klas vir leerders op die outismespektrum en kinders met leerhindernisse. Die Prisma-klasse bied hoofstroom Afrikaanse onderrig, een-tot-een aandag, en visuele en konkrete hulpmiddels vir elke leerder.
Skoolhoof Sakkie Matthee het by die opening vertel: “Wat ons beoog om te doen en waarna ons streef, is om hierdie klaskamers en dit wat ons het tot voordeel van elke kind te gebruik.”

Hy het ook bygevoeg: “Ons moet elke dag gebruik om hierdie kinders tot die beste van ons vermoë te ontwikkel en hulle te lei in die toekoms in. Ek kan met eerlikheid sê dat ons dit nou regtig 100% kan benut.”
Isabel Homśek, Hoof van die Prisma-klasse, het verduidelik dat die “Kleinklassie” van 2013 gebruik word vir gespesialiseerde onderrig, en dat hulle nou beter ingerig is om kinders met leerhindernisse te akkommodeer.

“Die doel is om ’n verskil te maak en hulle te akkommodeer in ’n kleiner klassie,” het Homśek vertel. “Dit was aanvanklik net ’n outistiese skooltjie gewees en vir getalle het ons dit basies onder die sambreel van ‘alles tot leerhindernisse’ gegooi, om al die kinders te akkommodeer,” het sy bygevoeg.
Prisma @ Possies het klasse vir leerders van graad 1 tot 7, dieselfde grade wat by Primêre Skool Willem Postma aangebied word.
“Hierdie kinders het baie behoeftes, so ons kan nou meer in hul behoeftes voorsien,” het Matthee vertel.
Warren Hawkins