Wilco uitgenooi om in eerste major te speel

0
835
Wilco Nienaber FOTO: SONSKYNREEKS

Die 21-jarige gholfspeler van Bloemfontein, Wilco Nienaber, sal aanstaande maand vir die eerste keer in sy loopbaan in ‘n major meeding.

Nienaber het sy uitnodiging om deel te neem aan die Amerikaanse Ope by Torrey Pines in San Diego, Kalifornië ontvang danksy ‘n paar goeie vertonings wat daartoe gelei het dat hy die pasaangeër is op die Sonskyntoer se Orde van Verdienste.

Nienaber, wat in April 21 jaar oud geword het, is dus een van die jongste spelers nóg in Suid-Afrika wat sy kans verdien het om in ‘n major te speel.

Die jongste speler nog wat vir Suid-Afrika in ‘n major gespeel het, is Dale Hayes. Hy het op die ouderdom van 17 jaar en 8 dae sy buiging in 1969 Britse Ope gemaak. Bobby Cole was 18 tydens die 1967 Meesters, terwyl Trevor Immelmann op 19 jaar en 3 maande by Augusta gespeel het. Ernie Els het op die ouderdom van 19 jaar een 9 maande aan die Britse Ope deelgeneem.

Nienaber se uitstekende oorwinning tydens die Dimension Data Pro-Am by Fancourt in George het grootliks bygedra tot sy nommer-een status op die Orde van Verdienste.

Verlede week het die vuurwarm driemalige Europese Toer-kampioen, Garrick Higgo, op 22-jaar sy buiging in ‘n major gemaak tydens die PGA Kampioenskap op die Kiawah-eiland in  Suid-Carolina.

Nienaber het uit Denemarke, waar hy aan die Made in HimmerLand-toernooi in die Europese Uitdaagreeks gaan deelneem, aan Bloemfontein Courant gesê hy is verheug oor die uitnodiging en kan nie wag om vir die eerste keer as beroepspeler in Amerika te speel nie.

“Ek is verheug oor my uitnodiging na die Amerikaanse Ope. Ek dink dit is baie cool. Ek kan nie wag om San Diego toe te gaan om met my voorbereidings te begin vir die major nie.

“Ek kan ook nie wag om weer in Amerika te speel nie, hoewel dit vir die eerste keer sal wees as professionele speler.”

Die 2021- Amerikaanse Ope, wat spog met prysgeld van nagenoeg R170 miljoen, word van 17 tot 20 Junie gespeel. – MORGAN PIEK