Wilco mis net-net uit op eerste groot titel

0
888
Wilco Nienaber het die wêreld aan die gons gehad met sy lang dryfhoue, en hy spog vanjaar met die langste hou op die Europese Toer. Hy was ook met die setstok vuurwarm gewees by die Randpark Gholfklub. FOTO: CARL FOURIE/SUNSHINE TOUR

‘n Oorwinning was bitter naby vir die 20-jarige Bloemfonteiner, Wilco Nienaber, die afgelope naweek in die Joburg Ope by die Randpark Gholfklub in Johannesburg.

Die speler van die Rosestad het net-net sy eerste wen as ‘n professionele speler op die Europese Toer asook die Sonskynreeks misgeloop nadat hy in die toernooi op die Firethornbaan voorgeloop het.

Nienaber het die wêreld aan die gons gehad met sy lang dryfhoue, waarvan een op die vierde putjie van dag een van die internasionale gholftoernooi, die eerste sedert Februarie, 401m lank was.

Die speler het egter op die laaste dag in die Goudstad gesukkel op putjies aan te teken, en dit het hom duur te staan gekom, veral teen die einde. Brouhoue om die 17de en 18de putjies het daartoe gelei dat die 30-jarige speler van Denemarke, Joachim B Hansen, op die nippertjie die voortou geneem en toe die toernooi met twee houe gewen het met 19 onder baansyfer.

Hoewel Nienaber nie koning gekraai het nie, het hy verseker dat hy nogtans ‘n goeie Kersfees kan geniet nadat by met prysgeld van R1,9 miljoen weggestap het. Dit is net die prysgeld wat hy gewen het en sluit nie dit wat hy deur sy borge verdien het in nie.Dit was teleurstellend dat hy op die nippertjie vasgeval het, maar daar moet onthou word dat hy slegs ‘n jaar gelede die Suid-Afrikaanse Amateur-titel ingeplam het, en in sy eerste seisoen op die Europese Toer het hy driekeer onder die top-tien geëindig. Dit is self ‘n reuse-prestasie en is iets wat die meeste gesoute spelers nie eens kan regkry nie.

“Dit was my eerste top-twee plek op die Europese Toer, so ek is baie tevrede daarmee. Om tweede te eindig is nou nie die beste nie, jy is maar die eerste verloorder, dit is maar reg so. Volgende week is nog ‘n week; ek is heel tevrede met hoe ek gespeel het. Ek sien uit na volgende week.”

Nienaber sal beslis vandeesweek een stap beter wil gaan wanneer hy in die Alfred Dunhill-kampioenskap by die ikoniese Leopard Creek Buiteklub in Malelane, Mpumalanga, weer die bof betree.

Een ding is vir seker, Nienaber sal nog ‘n groot naam in Suid-Afrikaanse en internasionale gholf word. – MORGAN PIEK