Die 21-jarige Wilco Nienaber van Bloemfontein het in drie opeenvolgende weke ‘n driekuns van oorwinnings op die Europese Uitdaagtoer beklink toe hy Sondag die Dimension Data Pro-Am in ‘n uitspeelstryd op Fancourt in George gewen het.
Nienaber en Henric Sturehed van Swede het albei op 19 onder baansyfer op die Montagubaan in die skadu van die Outeniqua-berge geëindig ná van vier dae van gholf, en die melkbaard van die Rosestad het drie uitspeelputtjies nodig gehad om sy eerste titel as professionele speler te beklink. Dit was ook Nienaber se eerste oorwinning in die Sonksynreeks, sowel as in die Europese Uitdaagtoer.
“Ek is opgewonde en ook baie emosioneel,” het Nienaber met trane in sy oë gesê oor sy oorwinning.
“Ek is ‘n baie groot familie-ou, en ons het ‘n baie hegte band in ons gesin. ‘n Groot deel van my oorwinning vandag is danksy hulle. Dit is ongelooflik hoeveel hulle my ondersteun het.”
Nienaber het die laaste rondte drie houe agter die voorloper begin. Hy het gedink dat hy sy kans misgeloop het toe hy ‘n brouhou op die negende putjie aangeteken het, maar ten spyte daarvan sy toernooi sterk afgesluit met vyf voëltjies tydens die laaste nege putjies om die uitspeelrondte met Sturehed te verseker.
Tydens die eerste twee uitspeelputjies het sowel Nienaber as Sturehed baansyfer aangeteken in vyf houe voordat die speler van Sweede met die derde poging ‘n brouhou aangeteken het. Nienaber het toe baansyfer aangeteken vir die sege.
“My doelwit was om 20 onder baansyfer aan te teken in die regulasiespel, maar ek het dit egter in die negende verbrou. Ek het gevoel dat ek met daardie ses my kanse verbrou het. Ek het dus ‘n aanvallende ingesteldheid gehad vir die agterste nege putjies. Ek móés uitgaan en dit wen.
“Dit is wonderlik om ‘n Europese Uitdaagtoer-kaart te hê, maar dit is nie die doelwit nie. Ek moet weer in die Europese toer begin speel en hopelik volgende jaar my plek in ‘n paar Majors bespreek.”
Met sy oorwinning het Nienaber net-net onder R1 mijoen in prysgeld gewen, en dié belangrike toerkaart verdien. Boonop sal hy later vanjaar ook aan een van die gholf-wêreldreekstoernooie deelneem.
Nienaber het ook tot bo-aan die Road to Mallorca-ranglys in die Europese Uitdaagtoer gespring.
Met sy sege het Nienaber met 45 plekke na die eerste plek met 56 623,6 punte gespring. Die naaswenner, Sturehed van Swede, het met 74 plekke na die tweede plek gespring op 38 852,2 punte.
Suid-Afrikaners oorheers die top-10 met Ollie Bekker in die derde plek, JC Ritchie in die vierde plek, Jacques Blaauw in die sesde plek en Hennie du Plessis in die negende plek.
Nienaber het ook op die amptelike wêreld-gholfranglys ‘n groot sprong van 47 plekke gemaak om nou die 131ste plek te beklee. – MORGAN PIEK