Wiese vir nou nog toegewyd aan die Cheetahs

0
82
Jasper Wiese FOTO: JAKO PIENAAR

Die agtsteman van die Toyota Cheetahs, Jasper Wiese, sal tot op sy laaste dag op 31 Oktober toegewyd aan die Cheetahs bly.

Die vuurvreter-losvoorspeler sal die span verlaat om by Leicester Tigers in Engeland in te val. Sy broer, Cobus, wat vir die Stormers speel, is ook op pad na Engeland, maar sal vir die Sale Sharks speel.

Die Ierse span, Connacht, het ook belangstelling getoon in die dienste van die kragtige Cheetahs-baldraer.

Wiese het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy sy tyd in Bloemfontein baie geniet het, maar dat hy daarna uitsien om by die Engelse klub met sy baie ryk geskiedenis aan te sluit.

“Dit is ‘n nuwe en opwindende uitdaging, en Leicester het ‘n ryk geskiedenis. Maar totdat ek weg is, sal my fokus op die Cheetahs wees. Ek het dit aan al die afrigters en sommige van die spelers vertel. Wanneer die tyd aanbreek, sal my fokus na my nuwe span verskuif.

“Dit is nuut en opwindend, maar die Engelse gaan ‘n bietjie sukkel en ek hoop ons sal dit kan laat werk.

“Ek het goed gevaar by die Cheetahs en ek het hier baie geleenthede gehad. Ek het net gedink dat dit die regte tyd is vir ‘n nuwe uitdaging, vir my as persoon en ook as speler.

“Ek waardeer alles wat die Cheetahs vir my gedoen het, maar vir nou sal my fokus op hulle bly.’

Die losvoorspeler van die Pumas en Bulle, Jeandré Rudolph, sal Wiese se plaasvervanger by die Cheetahs wees. – MORGAN PIEK