Wie moet die Cheetahs slyp?

0
738
Franco Smith FOTO: INPHO/ JAMES CROMBIE

Dit blyk ‘n uitgemaakte saak te wees dat die Toyota Cheetahs die 2019/20 Guinness Pro14-reeks met ‘n derde afrigter in drie seisoene sal aandurf.

Die huidige Cheetahs-breier, Franco Smith, is verbind tot sy pos as Italië se hoofafrigter vir die toekoms en alle aanduidings is dat hy die pos sal oorneem na afloop van die 2019 Rugbywêreldbeker in Japan.

Gerugte doen al vir die afgelope paar weke die ronde dat Rassie Erasmus, direkteur van SA Rugby, nadergetrek sal word deur die Cheetahs in die proses om afrigter aan te stel. In dié stadium is dit nog nie bekend wat presies Erasmus se rol in die proses sal wees nie.

Die groot vraag bly egter, wie gaan die Cheetahs slyp?

Die eerste naam wat met die pos verbind word, is die huidige Universiteit van Stellenbosch Maties se afrigter, Hawies Fourie, wat geen vreemdeling vir die Toyota Cheetahs is nie. Hy was hulpafrigter vir Smith se voorganger, Naka Drotské. Hy was ook afrigter van die Griekwas voordat hy na die Eikestad verhuis het waar hy die afgelope twee jaar die Varsitybeker saam met Maties gelig het.

Fourie het ook die Boland Kavaliers afgerig en was agterlynafrigter van die Stormers. Hy het sonder twyfel die regte agtergrond om dié pos te vul, maar wat Fourie ‘n groot bate sal maak, is sy uitstekende kennis van junior spelers in Suid-Afrika, van skoolvlak tot universiteitsrugby.

Fourie het al die vraag of hy ‘n terugkeer na die Cheetahs sal maak ‘n paar keer ontduik, maar het ook gesê dat die pos in die Rosestad een van die top-ses-afrigtersposte in die land is.

Die voormalige Cheetahs-breier en direkteur van rugby, Rory Duncan, se naam word ook aan die pos gekoppel, maar hy het onmiddellik by navraag aan Bloemfontein Courant gesê dat hy geen planne het om na Suid-Afrika terug te keer nie. Duncan is tans in Engeland waar hy as hoofafrigter dien by die Engelse Premierliga-span, Worcester Warriors.

Tydens Duncan se eerste termyn as Cheetahs-afrigter het die span in die Curriebeker gesukkel, maar toe hy die span tydens die eerste Pro14-veldtog gelei het, het die Cheetahs die uitkloprondes van die reeks gehaal.

Die mees onlangse naam wat opgeduik het, is die van die Southern Kings se afrigter, Deon Davids. Maar is hy sterk genoeg vir dié rol?

Die werwing van spelers sal een van die belangrikste aspekte wees vir die Cheetahs en een van die beste breiers in die land wat dit betref is die huidige Hoër Jongenskool Paarl se hulpafrighter, André Tredoux. Hy was vantervore betrokke by die junior spanne van die Vrystaat, asook die Shimlas, voordat hy by die Docomo Red Hurricanes in Japan aangesluit as Dawie Theron se hulpafrigter.

Tredoux het aangedui dat hy sou belangstel in die pos en het aangedui dat dit harde werk sal vereis om die Cheetahs weer op die regte pad te kry, maar as die regte strategie gevolg word, kan dit gedoen word.

Die Cheetahs het tans goeie fasiliteite, maar hulle sal moet opgradeer na wêreldklas. Indien die Cheetahs kompeterend wil wees op die hoogste vlak, sal hulle beter fasiliteite moet hê as skolespanne in Suid-Afrika. – MORGAN PIEK