White Tigers vuurwarm by nasionale kampioenskap

0
1218

MORGAN PIEK

Agt-en-veertig Koreaanse Krygkuns-studente van die White Tigers-klub wat die Tang Soo Do-styl beoefen en deel is van die Haedong Kumdo-Konfederasie, die meeste uit Bloemfontein, het aan die onlangse Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem en weer eens hul staal op nasionale vlak getoon.

Meester-instrukteur Liza Coetsee-Hugo (5de Dan) is die trotse afrigter van die White Tigers-klub waaronder Bloemfontein, Ficksburg, Aliwal-Noord, Zastron, Lady Grey en Jacobsdal en ook Pretoria val.

Hierdie toernooi het by Universiteit van die Witwatersrand plaasgevind. Al die verskillende klubs van die konfederasie het hier teen mekaar meegeding. Die 48 White Tigers het in geheel 87 medaljes ingeryg. Nege en twintig van hulle oefen in Bloemfontein en ding mee in die Tang Soo Do-styl. Onder hulle is 14 Suid-Afrikaanse kampioene. 

Sewe spanne het ook ingeskryf vir spankompetisies en ses medaljes ingepalm. Van die deelnemers is leerders aan die Meisieskool Oranje, Jim Fouché, President Steyn, Eunice, President Brand, Laerskool Fichardtpark, Universitas Primêr en Grey-kollege.