White breek Scheckter se baanrekord

0
163
Stuart White in die Ginetta LMP G57 waarmee hy Ian Schechter se 36 jaar oue baanrekord in Oos-Londen gebreek het. FOTO: DAVE LEDBITTER

Die tiener-renjaer van Bloemfontein, Stuart White, het weer eens die land aan die praat nadat hy oor die naweek die 36 jaar oue baanrekord van Ian Scheckter gebreek het.
White het in Oos-London saam met sy spanmaat, Craig Jarvis, aan die Big Foto 700 Enduro-wedren deelgeneem. Die paar in ‘n Ginetta LMP G57 gery en Vrydag reeds wegspringposisie vir die wedren verower.

White het die baanrekord van die ikoniese renjaer, Scheckter, gebreek toe hy in ‘n haastige tyd van 1:15.911 om die baan gejaag het. Dus hou die 17-jarige White nou die vinnigste tyd by dié baan. Scheckter het destyds in 1983 ‘n Formula Atlantic gery toe hy die rekord opgestel het.

Dit is egter ook die derde baanrekord wat deur White opgestel is in drie wedrenne. White se ander baanrekords is op Killarney in Kaapstad en Also Scribante in Port Elizabeth.

Die vier uur lange wedren is deur White begin en na ‘n uur het hy die stuurwiel aan Jarvis oorhandig. White het vir Jarvis, wat ook die motor besit, ‘n goeie voorsprong opgebou en Jarvis het die momentum aan die gang gehou voordat hy weer aan White oorhandig het. Jarvis het die wedren voltooi en die paar was ses rondtes vinniger as Michael Steven wat ‘n Aston Martin bestuur het.

White en Jarvis het in hul Ginetta ‘n topspoed van 289 km/h bereik en het teen ‘n gemiddelde spoed van 186 km/h gery.

White is nou weer op pad oorsee vir die vyfde ronde van die Franse Formule 4-kampioenskap. Die die vyfde ronde van die reeks sal vroeg aanstaande maand in Boedapest, Hongarye, plaasvind. Na vier rondes in die kampioenskap is White tans agste op die punteleer. Behalwe vir Sten van der Henst van België (3de) is hy ook die hoogs geplaaste renjaer op die punteleer wat nie van Frankryk afkomstig is nie. – MORGAN PIEK