Plaaslike balletliefhebbers kan uitsien na ‘n genotvolle aand wanneer die Royal Moscow Ballet-vertoning in die Sand du Plessis-teater op 17 Maart 2018 aangebied word.
M.I. Petrakov, ambassadeur van die Russiese Federasie vir die Republiek van Suid-Afrika, sê: “Dit het tradisie geword om die beste balletgeselskappe as verteenwoordigers van die wêreldbekende Russiese Ballet in Suid-Afrika te verwelkom. Hul vertonings word altyd met groot waardering ontvang.”
Volgens die ingligtingsboekie sal die Black Pas De Deux uit die beroemde ballet, Swanemeer, deel van die vertoning wees. Die senario, oorspronklik in twee bedrywe, het sy oorsprong in Russiese volksverhale en vertel die storie van Odette, ‘n prinses wat in ‘n swaan verander word deur die vloek van ‘n bose towenaar. Die Russiese balletpatriarg, Fyodor Luphokov, het Swanemeer ‘n “nasionale ballet” genoem omdat die swane volgens hom uit Russiese liriese romantiese bronne ontstaan het, terwyl baie van die bewegings van die lede van die balletgroep hul oorsprong in Slawiese ringdanse het.
Nog iets om na uit te sien is, Tchaikovsky se Francesca da Rimini, ‘n simfoniese fantasie.
Vandag kan jou gelukkige dag wees! Vyf Bloemfontein Courant-lesers staan ‘n kans om ‘n stel dubbelkaartjies te wen om hierdie wêrelklasballetvertoning by te woon. Al wat jy moet doen, is om na Bloemfontein Courant se webwerf te gaan, op Win te kliek en jou ingligting in te vul.
Kaartjies kan bespreek word by die kaartjieskantoor in St. Andrewstraat. Vir meer inligting, bel Pacofs by 051-447-7772.
Zilke Prinsloo
zilke@mahareng.co.za