AfriForum het vandag ’n verslag, waarin die brutaliteit van plaasmoorde uitgebeeld word, bekendgestel.
Die Internasionale Rehabilitasieraad vir die Slagoffers van Marteling het ook reeds aan die burgerregte-organisasie onderneem om die verslag te bestudeer. Die verslag is juis vandag vrygestel omdat dit deur die Verenigde Nasies verklaar is tot Internasionale Dag ter ondersteuning van Martelingslagoffers.
Die Raad is in Denemarke gesetel en by die Verenigde Nasies geaffilieer. Dit is ’n sambreelorganisasie wat uit 144 onafhanklike rehabilitasieliggame in meer as 70 lande bestaan.
Die verslag beslaan meer as 30 bladsye en is met die hulp van Lorraine Claasen, ’n kriminoloog wat in plaasmoorde spesialiseer, saamgestel. Dit bevat ’n reeks gevallestudies waarin die wreedheid van marteling tydens plaasmoorde uitgebeeld word.
Die verslag is saam met ’n petisielys vir die prioritisering van plaasmoorde wat uit meer as 60 000 name bestaan, in hardekopie by die nuutaangestelde minister van polisie se kantoor ingedien.
AfriForum is goed ontvang, en ? woordvoerder in die minister se kantoor het aangedui dat die minister die verslag sal bestudeer en dat hulle ? opvolgvergadering met die minister sal skeduleer vir toekomstige samewerking met AfriForum asook om ? moontlike teenstrategie te bewerkstellig.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dat hierdie aksie ’n voortsetting van die organisasie se uitgebreide veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde is.
“Plaasmoorde is buitengewoon wreed. Ondanks daarvan is die regering grootliks in ontkenning oor die ware omvang van die probleem. Die president het verlede week gesê dat die landbougemeenskap in die jare wat voorlê een miljoen werksgeleenthede moet skep, maar ignoreer die feit dat daardie einste werkskeppers gemartel en vermoor word.”
Slagoffers van plaasaanvalle – waarvan sommige self gemartel is – was teenwoordig met die bekendstelling van die verslag.
• Sien die verslag hier: https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/afriforum_plaasmoord_verslag.pdf
• Foto’s asook HD-videomateriaal is op aanvraag beskikbaar.
Verklaring is deur Afriforum uitgereik.