Wêreld-rolbalkampioen van VS ook dubbele SA kampioen

0
809

GEORG VAN ECK

Suid-Afrika, Vrystaat en Bloemfontein se wêreldkampioen het weer ‘n uitmuntende prestasie op die Suid-Afrikaanse Gestremde Rolbalkampioenskappe in Port Elizabeth behaal en gaan sy wêreldtitel aanstaande jaar in Withing, Engeland verdedig.
“Ja, ek gaan in Julie Engeland toe vir die wêreldkampioenskappe nadat ek die goue medaljes in die pare en enkelspel op die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Port Elizabeth gewen het,” het die 67-jarige Michiel Kruger, die blinde rolbal-wêreldkampioen van die Bloemfonteinse klub, Orangia, gesê.
En voordat hy Engeland toe vertrek, gaan Vrystaters die kampioen plaaslik in aksie sien, want die nasionale gestremde rolbalkampioenskappe vind in April in die Rosestad plaas. Dit sal Kruger se 32ste SA toernooi wees.
Kruger, het weer saam met sy afrigter van die afgelope 13 jaar, die 71-jarige Willie Schoeman, wat ook ‘n kranige rolbalspeler is, skoonskip teen selfs internasionale teenstanders in die Baai gemaak.
“Michiel is die eerste blinde speler in 17 jaar om die nasionale goue medalje in die enkelspel en pare te wen. Manie Alberts het dit in 1995 laas reggekry,” vertel Schoeman.
Veral die parekompetisie was baie moeilk vir Kruger wat elke keer met ‘n nuwe maat moet saam speel. “Ons het in die halfeindronde teen Israel gespeel en dit was nie maklik nie. Ons was vier skote agter en het uiteindelik met 1 punt gewen. In die eindstryd het ons met Gauteng afgereken,” vertel Schoeman terwyl hy hul probleme en taktiek op die perk verduidelik.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Blindes in die Vrystaat het onder leiding van Michiel se vrou en bestuurder van die vereniging, Marianne, ‘n groot rol gespeel om die nodige geld in te samel om aan die SA kampioenskappe in die Baai te gaan deelneem. Vir die besoek aan Engeland is geld ook ‘n probleem.
“Van ons spelers asook die afrigters wat deelneem, is ek die enigste wat werk (klavierstemmer). Die ander is almal pensionarisse en fondse is dus skraps,” verduidelik Kruger.
Schoeman, wat reeds besig is met die reëlings vir die SA gestremde rolbalkampioenskappe in Bloemfontein, sê dit is duur om so ‘n toernooi aan te bied. “Daar word tussen 140 en 150 spelers, afrigters en helpers verwag. Hulle verblyf en vervoer is ‘n probleem en ons soek hulp met busse vir vervoer. Gelukkig help Pieter van Rooyen van die Protea-hotel, Sentraal ons baie met verbly. Hy help ons al die afgelope drie jaar.”
Mense, wat wil help, kan met die Vereniging vir Blindes, Vrystaat by 051-447-6934 skakel.
Kruger sê hy is groot dank aan die Orangia Rolbalklub en die Vereniging vir Blindes in Bloemfontein vir hul ondersteuning verskuldig. “Ons speel reeds die afgelope 30 tot 40 jaar by die klub en word soos enige ander lid by die klub ontvang en behandel.”
Fiksheid is ook belangrik en Michael en sy vrou stap gereeld. Hy roei ook om fiks te bly. “Onthou hy moet fiks wees, want in toernooie is hy sewe uur ‘n dag op sy voete. Konsentrasie is van groot belang en as jy fiks is, is jou konsentrasie ook goed,” verduidelik Schoeman.