Die droomroete, Namibië se Tuinroete, is die mooiste pad in die hele land. Só word die D707 deur al wat ’n Namibiër is, aanbeveel, én hulle oordryf nie. Die pad loop onder meer deur die 202 000ha NamibRand Private Natuurreservaat, asook die Namib-Naukluft Park. Dit is die ideale pad om suid in die rigting van Aus en Lüderitz te vat.

Aus is ’n klein dorpie in die Karas-streek en was voorheen bekend vir die konsentrasiekamp wat in 1915 deur die SuidAfrikaanse weermag gestig is om Duitse gevangenes tydens die Eerste Wêreldoorlog gevange te hou. Die gevangenes is aanvanklik in tente gehuisves, maar later is daar baksteenhuise vir hulle gebou. Sowat 1 500 Duitsers was hier in aanhouding, maar teen Mei 1919 is die laaste gevangenes vrygelaat en is die kamp gesluit. Later is daar ’n gedenkplaat opgerig en ’n paar van die huise is herbou. Dié huise is vandag een van die kenmerkende aantreklikhede in die streek.

Wes van Aus, in die dorre Namib-woestyn by Garub-pan, kry jy die Namib se wildeperde. Hier oorleef ’n trop van sowat 150 wildeperde al vir meer as ’n eeu. In die uiterste natuursomstandighede hier het die perde oor die jare aangepas en kom met baie minder water as ander perde oor die weg. Daar is verskeie teorieë oor waar die perde oorspronklik vandaan kom. Een van die mees waarskynlike verduidelikings kom uit die tydperk 1915 tot 1925 tydens die Eerste Wêreldoorlog, toe die Unie van Suid-Afrika se troepe By Garub gestasioneer was.

Dokumente uit dié tydperk verwys na 10 000 soldate met 6 000 perde wat kamp opgeslaan het op die stowwerige uitspansel op die rand van die Namib-woestyn. Vir water het hulle staatgemaak op die boorgat wat gebruik is om lokomotiewe aan te vul by die nabygeleë spoorlyn. Die Duitse magte het in daardie tyd in die heuwels by Aus, 25km na die ooste, kamp opgeslaan. Die Unie se kamp is gereeld met tussenposes gebombardeer. Die laaste aanval was op 27 Maart 1915, wat vermoedelik tot die verstrooiing van die Unie se perde gelei het. Die Namib is vandag so aangepas dat dié perde beskou word as ’n perderas in eie reg en hulle lok elke jaar talle besoekers na dié streek.

Ná ’n besoek aan die wildeperde, kan sowat 100km wes in die rigting van die hawedorp, Lüderitz, gery word. Net voordat jy Lüderitz aan jou regterkant kry, lê die verlate spookdorp, Kolmanskop. Tekens van die dorp se voormalige weelde en oordaad is hier in die sand verborge. Kolmanskop is in ’n afgesperde gebied, genaamd Sperrgebiet (’n diamantmyngebied), geleë en ’n mens het ’n permit nodig om hier in te gaan. Permitte is maklik by Kolmanskop se ingang of by die toerismekantoor op Lüderitz bekombaar. Kolmanskop het sy ontstaan gehad uit die bloeitydperk van die diamantera. Dit is hier waar Afrika se heel eerste aandelebeurs ontstaan het met drie genoteerde maatskappye.

Die inwoners van Kolmanskop is destyds deur die enorme rykdom van die eerste diamantmyners gedryf en het die dorp in die boustyl van ’n Duitse dorp ontwerp, met geriewe en instellings, insluitend ’n hospitaal, banketsaal, kragstasie, skool, kegelbaan, teater en sport-saal, casino, ysfabriek en die eerste X-straal-stasie in die suidelike halfrond, asook die eerste trem in Afrika met ’n spoorlynskakel na Lüderitz. Ná die Eerste Wêreldoorlog was die ryk diamantvelde redelik uitgeput en is die dorp in 1954 uiteindelik verlate gelaat. Kolmanskop is ’n gewilde toerisme-aantreklikheid en beslis die moeite werd om te besoek. ’n Mens staan werklik verstom oor die weelde van daardie tyd.

Vat van daar die pad na Lüderitz, ’n ou Duitse kusdorp in Namibië. Die dorp is bekend vir sy
eiesoortige Duitse atmosfeer en kolonialestyl-geboue wat die Art Nouveau-styl-argitektuur uitbeeld. Die waterfront het onlangs ’n opgradering ondergaan en met die bou van ’n nuwe kampus vir die Universiteit van Namibië hier, is die dorpie besig om sy eie soort Renaissance te ondergaan. Die dorp het ook ’n paar historiese landmerke, wat ’n besoek werd is. Daar is ’n magdom inligting oor die dorp se geskiedenis en jy kan die toerisme-sentrum besoek vir inligting. Van die gedenktekens wat in die dorp gekry kan word, is onder meer opgedra aan die eerste pionier, Heinrich Vogelsang, en aan die stigter van Lüderitz, Adolf Lüderitz, en aan kaptein Cornelius Fredericks, ’n Bethanie-Nama-leier.

Die prominente Felsenkirche, ’n Evangelies-Lutherse kerk, toring van Diamantheuwel af oor die dorp uit. Net om die draai daarvan is die Goerke Haus, die oorspronklike huis van luitenant Hans Goerke, wat deur die argitek Otto Ertl ontwerp is. Die huis is in 1910 gebou en was een van die uitspattigste geboue op die dorp. Nie ver uit die dorp nie, vind jy die Dias-kruis. Dit is hier waar Bartolomeu Dias in 1487 voet aan wal gesit het in Namibië. En natuurlik sal jou besoek aan hierdie kusdorpie nie ’n ware ervaring wees sonder ’n heerlike bord seekos nie – kreef, oester, calamari, vis – net wat jou hart begeer. Volgende week reis ons na ons laaste bestemming in ons Namibië-reisreeks, die Visriviercanyon, Keetmanshoop en Windhoek.
maricelle@centralmediagroup.co.za
Bruikbare Nuus
Waar om te slaap: Klein-Aus Vista – Hierdie lodge is tussen die Ausberge, ’n paar kilometer buite die dorp, Aus, geleë. Dit is bekend vir sy uitgebreide en pragtige uitsig, sy pragtige bergfi ets- of staproetes, ’n uitkykpunt bo die kampterrein en boonop sy afgesonderde Eagle’s Nest Chalets. Dit is sentraal geleë en dit is maklik om die hele gebied van hier af te verken. E-pos: info@klein-aus-vista. com http://www.klein-aus-vista. com/home/
Wat om te doen: Bergfietsry – Een keer per jaar, teen einde April, begin Mei, organiseer Klein-Aus Vista ’n bergfi etswedren waar deelnemers kan meeding oor twee dae. Fietsryers kan vir ’n 140km-volmarathon of ’n 70km-halfmarathon inskryf. Die Lüderitz Speed Challenge is ’n jaarlikse spoed-vlieërbranderplankrykompetisie, wat sedert 2007 in Lüderitz gehou word.
Handige kontakbesonderhede: Besoek Impala Tours – http://www.impalatours.com/
Vir meer inligting besoek http://www.namibiatourism.com.na.