.
GEORG VAN ECK
Dit was so hittete of Crusaders het die tweede groot opskudding van die seisoen in die Vrystaatse klubrugbyliga om die Stadsbeker veroorsaak, toe hulle die FNB Irawas van die Universiteit van die Vrystaat (UV) behoorlik laat les opê het vir die studente se naelskraapse oorwinning van 24-20 in die Clive Solomon-stadion.
In die ander twee Stadsbeker-wedstryde het FNB Shimlas van UV en Ixias van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) weghol-seges van 100-0 en 73-24 oor onderskeidelik Bloemfontein Polisie op Bobbiespark en Tjisas in die SUT-stadion behaal.
Dit is nou ’n uitgemaakte saak dat FNB Shimlas direk na die eindstryd van die Stadsbeker sal deurdring, terwyl FNB Ixias en FNB Irawas mekaar in die halfeindronde sal pak om te bepaal wie teen FNB Shimlas te staan kom.
In die Clive Solomon-stadion het Crusaders en FNB Irawas mekaar in ’n byna stormsterkte wind aangedurf. Dit het aangee, ingooie in die lynstane en skoppe baie riskant gemaak het en foute is gemaak.
Albei spanne het daarvoor vergoed deur met mening in te klim. Crusaders het met sowat 12 minute speeltyd oor die voortou 20-14 geneem nadat goeie spel deur die voorspelers met ’n drie deur Darius Viljoen afgerond is.
Die skaal is in die Irawas se guns geswaai deur uitstekende spel deur die heelagter Beyers Louw, wat die wind baie goed gelees het en uiteindelik 14 van sy span se punte met ’n drie en skoppe aangeteken het.
Ander uitblinkers vir die FNB Irawas was Marco Klopper, Ricky van Straaten en Tyron Schultz in die agttal, terwyl Erick Colyn en Danie Cronje goed in die agterlyn saam met Louw gespeel het.
Vir Crusaders het Jerome Raffie, Anto van Heerden, Davon Raubenheimer en Randall Nelson in die agttal ’n barshou gespeel, terwyl Leroy Bitterhout en Eddie Fredericks in die agterlyn hul teenstanders laat bontstaan het.
Die ander twee wedstryde was te eensydig om werklik enige afleidings te maak. FNB Tjisas van SUT het aanvanklik hardnekkig teenstand teen FNB Ixias gebied, maar toe die wal breek was daar nie keer aan Ixias nie. Die vonds van die wedstryd was Johan Ellis Olivier, wat eers as heelagter en later as senter deur die FNB Ixias ingespan is.
Bloemfontein Polisie se agttal met spelers soos Francois Saayman, Renier Steyn, Mike Taylor en Anton Smit het voor goed weerstand gebied teen FNB Shimlas, vir wie Joubert Horn ‘n welkome terugkeer gemaak het. Swak verdediging het verseker at Shimlas 16 drieë kon inryg.
Punte:
Irawas 24 (7). Drieë: Beyers Louw, Ricky van Straaten, Marco Klopper. Doel: Louw (3). Straf: Louw. Crusaders 20 (10). Drieë: Jason Horne, Leroy Bitterhout, Darius Viljoen. Doel: Griffin Colby. Straf: Colby.
Shimlas 100 (52). Drieë: Francois Ludwig (2), Arthur Williams (3), Aj Coetzen (2), Franna du Toit, Andre van der Walt, De Wet Kruger, Riaan Schoeman, Jonathan le Riche, Ruan van Rensburg, Joubert Horn, Elandré Huggett, Franco van der Merwe. Doel: Du Toit (8). Le Riche (2).
Ixias 73 (31). Drieë: Johan Ellis Olivier (4), Marius Grobler (2), Jean Luc van Zyl, Dean Kauprihanoff, Franco Naude, Fanie Coetzer Daniel de Jager. Doel: Jean Vos (9). Tjisas 24 (7). Drieë: Max Maloi, TC Nortje, Driaan van der Merwe, Heinrich van der Merwe. Doel: Hanco Pretorius, Maloi.